Gaan Rassie die voorbeeld van Mitch en Swys volg?

Handré Pollard en Franco Mostert, wat Saterdag onderskeidelik in “vreemde” posisies as senter en flank uitgeblink het. (Foto: GB Jordaan)

Dit bly ʼn waagstuk om spelers uit hul posisies te kies, maar in die geval van Handré Pollard en Franco Mostert kan die afgelope naweek ʼn rigtingwyser vir die Springbokafrigter, Rassie Erasmus, wees.

Hul blink vertonings mag genoeg vir Erasmus wees om hulle vanjaar as binnesenter en flank vir die komende  toetse te oorweeg.

Albei het die regte temperament, visie en vaardighede om maklik aan te pas, anders as baie mislukkings voor hulle.

Pollard is deur die Bulls-afrigter, John Mitchell, na binnesenter vir verlede Saterdag se Superwedstryd teen die Lions op Loftus Versfeld geskuif nadat die gereelde binnesenter en kaptein, Burger Odendaal, ʼn besering opgedoen het. Pollard het ʼn afgeronde vertoning gelewer en was die oë en ore van Marnitz Boshoff, wat losskakel gespeel het.

Pollard is heeltemal vertroud met binnesenter, want dis waar hy in 2013 vir die SA o.20-span by die Junior Wêreldtoernooi en ook in sy eerste jaar by Tukkies in die Varsitybekerreeks gespeel het.

Die kans is baie goed dat Jan Serfontein en Frans Steyn (en Pat Lambie) vanweë hul Franse klubverpligtinge by Montpellier, en ook omdat die toets teen Wallis op 2 Junie buite die toetsvenster val, nie oorweeg sal word nie.

Wie gaan Erasmus as Bok-losskakel kies? Pollard, Pat Lambie of Elton Jantjies? En wie gaan binnesenter speel? Pollard, Rohan Jansen van Rensburg, Francois Venter of André Esterhuizen?

Nieu-Seeland het baie vrugte gepluk deur Dan Carter vroeër in sy loopbaan as binnesenter te kies. Die losskakel Aaron Mauger was later op binnesenter die argitek van baie All Black-oorwinnings, want hy het Carter aangevul.

Engeland voer dit ook met vrug uit deur die uiters gemiddelde George Ford op losskakel en Owen Farrell as binnesenter te kies. Die Britse en Ierse Leeus het  Johnny Sexton (losskakel) en Farrell in verlede jaar se toetsreeks teen die All Blacks ook baie suksesvol  gebruik.

Mostert, een van die Lions se werkesels, het een van die beste vertonings as flank teen die Bulls gelewer toe die afrigter, Swys de Bruin, hom van slot geskuif het. Mostert is lank, atleties en baie vaardig en danksy sy insette, het die Lions die lynstane oorheers en die Bulls voos gemaal en gedryf.

Met Eben Etzebeth, Pieter-Steph du Toit en Lood de Jager straks voor hom in die Springboktou en ander slotte soos RG Snyman, Jason Jenkins en JD Schickerling (ondanks sy besering) wat in hul nekke blaas, kan Mostert die Bokke se toekantflank wees, veral as Erasmus twee verskillende Springbokspanne vir die toetse teen Wallis en Engeland oorweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

rollie ·

Nie een van die twee hoort in ‘n Bok-span nie, daar is beter spelers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.