Gaan rugby nie onder die nuwe hoogvatreël ly nie?

Hoogvat (Foto theroar.co,au)

Hoogvat (Foto theroar.co,au)

Die nuwe hoogvatreël, of eerder die toepassing daarvan, gaan spanne, spelers en afrigters gryshare gee.

Dis ʼn potensiële mynveld en ek kan al klaar die geween en gekners van tande hoor as die All Blacks, en byna al die spanne van die Suidsee-Eilande, belangrike wedstryde sonder 15 spelers voltooi. Dis nie ʼn afkraking of verkleinering van die spelers of spanne nie, maar dié spelers speel al jare lank op die treinspoor terwyl die skeids- en lynregters anderkant toe kyk.

Kom ons kyk wat die afgelope naweek gebeur het toe die reël die eerste keer in die Noordelike Halfrond strenger toegepas is.

Ulster se Sean Reddy het die trekpas teen die Scarlets vir ʼn hoogvat gekry en boonop het die Italiaanse skeidsregter Marius Mitrea ʼn strafdrie teen Ulster toegeken. Ulster is met 16-13 geklop, hoewel die Scarlets ook die wedstryd met 14 spelers voltooi het.

In Londen is Saracens se stut Richard Barrington vir ʼn skouerloop afgestuur nadat hy die Engelse slot van Exeter Chiefs Geoff Parling disnis geloop het. Saracens, verlede seisoen se kampioen, was gelukkig om met 13-elk gelykop te speel. Maar die skeidsregter het Brad Barritt in dieselfde voorval met ʼn gevaarlike hoogvat laat wegkom.

Só ook het die Ospreys ook ʼn rooi kaart gekry nadat Sam Davis afgestuur is, maar hulle kon darem teen Connacht wen.

Wêreldrugby het onlangs opdrag gegee dat die reël vir hoogvatte baie strenger toegepas moet word om beserings (veral harsingskudding) te voorkom. Oortreders moet met geel- en rooikaarte gestraf word.

In verskeie wedstryde is daar nie opgetree nie, ondanks ʼn hele paar onwettige en gevaarlike hoogvatte. Waar gaan die streep getrek word en watter skeidsregters gaan die kluts heeltemal kwytraak?

Dit het my laat terugdink. Sou Joggie Jansen se pletterloop op Wayne Cottrell in 1970 teen die All Blacks ongestraf gebly het? Sou Mannetjies Roux se hoogvat op die Britse Leeus se losskakel Richard Sharpe (hy het sy kakebeen gebreek en kon nie die toer voltooi het nie) ongestraf gebly het? Wat van Morné du Plessis se plettervat op Naas Botha in ʼn belangrike Curriebekerwedstryd?

Dit was almal ikoniese oomblikke in Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis, maar kon baie maklik deur ʼn skeidsregter bederf gewees het.

Daar sal ʼn baie groot verantwoordelikheid  op alle skeids- en lynregters rus en byna al die spelers sal hul verdediging drasties moet aanpas.

Ek ys as ek net daarna dink dat Romain Poite, Jérôme Garcès en Georce Clancy  weer in ʼn toets sal blaas waarin die Bokke speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Halflyn ·

Hoogvat reel is reg. Wat my bekommer is hoe n skeidsregter deesdae n loskop stut blaas vir inskrum maar dan is dit inderwaarheid die vaskop wat nie horisontaal bind. Onthou as n vaskop sy buite skouer laat sak en harder intrap met sy buite voet, kan dit nerens anders as binne toe. Dan blaas hulle die loskop en gee selfs kaarte. Mens sien dit veral as n span op sy agtervoet is en skrum voor die pale. Sodoende fnuik hulle die skeidsregter en dwing n strafskop af.

HENNIE NEUHOFF ·

Die verwysing na Joggie Jansen en Mannetjies Roux se duikslae is totaal onvanpas, veral omdat dit kwansuis bevraagteken word. Swak joernalistiek Pieter Kruger! Voeg dan by “onder die huidige reëls sou dit waarskynlik ….” In daardie tyd was dit ook nog binne die reëls om iemand se voete onder hom uit te loop as hy in die lug sou spring om ‘n hoë bal te vang. Soek jy maar net aandag?

Pieter Kruger ·

Hennie

Die punt wat ek wou maak, is of een van die huidige blasers onder die toepassing van die nuwe ree”ls nie dalk ander sou opgetree het nie. Ek se^ mos juis dis van die ikoniese oomblikke in SA se rugbygeskiedenis en ek beskou Joggie Jansen se plettervat op Wayne Cotterell as een van die kroonjuwele van Springbokrugby. Maar lees maar wat skryf Tony Collins in “A social history of English history” oor Manneties se plettervat.. Ek haal aan: “… when Northern Transvaal and Springbok centre Mannetjies Roux broke the jaw of English and British Lions flyhalf with a brutal head high tackle”.
Oor Morne se pletterloop op Naas Botha … dis steeds ses van die een en ‘n halfdosyn van die ander … maar hou sou Poite, Garces of Lancy dit gesien het?

Pieter K

Paul ·

Daar was niks fout met Morne se duikslag op Naas nie. Morne is wel gestraf en Naas het die bal oorgeklits en daarmee die wedstryd vir Noord-Transvaal gewen. Op daardie stadium het die sokker-agtige geel en rooi kaarte nog nie bestaan nie. So wat is jou punt nou eintlik?

Pieter Kruger ·

Naas Botha was wel beseer en is met ‘n draagbaar afgedra. Pierre Edwards het die strafskop oorgeskop.

Pieter K

Nico K ·

Nee Hennie en Paul, julle lees nie mooi nie. Die berig sê duidelik, sou (met vandag se reëls), daardie duikslae ongestraf gebly het. Dalk nie. En dit was beroemde duikslae. Ek stem saam met hoogvat, maar daar is darem perke. As jy ‘n man om die skouers vat, nie naby sy kop is nie, is daar vir my niks gevaarlik aan nie. En dit baie keer duidelik dat die speler nie hoog gegaan het nie. Die ander ou het gekoes. Ek kan nie sien hoe ‘n rooikaart uitgedeel kan word vir iets wat nie met opset gedoen is nie. ‘n Strafskop is ‘n straf. En jy kan nie iemand straf as daar nie intensie is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.