Gaap-gaap … en die Blues klop die Reds

Jerome Kaino – op ʼn wennoot by die Blues weg (Foto: All Blacks.com)

Dit gaan ʼn gekners van tande kos om deur die res van die Superrugbyseisoen te worstel wanneer daar byna niks meer op die spel is vir die twee spanne wat speel nie.

Ja, dalk was daar darem Vrydagoggend ʼn rede vir die Blues-ondersteuners om nostalgies te raak omdat een van hul grootste staatmakers Jerome Kaino die laaste keer op Edenpark uitgedraf het. Hy vertrek binnekort na Toulouse in Frankryk.

O ja, die eindtelling … Die Blues het die Reds met 39-16 geklop nadat die skeidsregter, die oudvleuel van die Stormers, Egon Seconds, vier geel kaarte uitgepluk het.

Die eerste was toe Jordan Petaia van die Reds ʼn teenstander geboorvat het. Toe het die Reds se Taniela Tupu gaan afkoel nadat hy ʼn teenstander sonder sy arms geloop het.

In die tweede helfte het twee geelkaarte aan die Blues gevolg, eers toe Matiaha Martin gestraf is nadat die Blues vir die soveelste keer in die los oortree het. Toe is Sione Mafileo afgestuur nadat die Blues nogmaals ʼn skrumoortreding gepleeg het.

Dis tragies dat die geelkaarte van die hoogte-, of dan laagtepunte, was.

Die kragmeting was geen vertoonvenster vir aanskoulike of goeie rugby nie en dit laat ʼn mens dink hoe die Blues die Lions op Ellispark kon geklop het en die Reds die Bulls getroef het.

Daar was gans te veel foute en swak besluitneming.

Dis hoekom alles om Kaino, 35, gedraai het. Hy het sedert 2004 57 keer vir Auckland gespeel, sedert 2006 139 keer vir die Blues uitgedraf en ook sedert 2006 in 81 toetse vir die All Blacks gespeel.

Puntemakers ‒ Blues (21) 39: Drieë: Melani Nanai, Rieko Ioane, Matt Moulds, Stephen Perefota, Caleb Clarke. Doelskop: Perefota. Strafdoele: Perefota (3), Bryn Gatland.
Reds (6) 16: Drieë: Duncan Paia’aua, Alex Mafi. Strafdoele: Jono Lance (2).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.