Gaap, gaap … wie gaan in die Springbokspan wees?

In die ou dae, toe daar nog proewe gespeel is, daar vyf of selfs meer keurders op die nasionale paneel was en die Poskantoor nog pos (betyds) afgelewer het, was dit ʼn groot kuns en tydverdryf om rugbyspanne raak te voorspel.

Daar is weke lank kopgekrap voor die tyd en spelers is oor en oor deur ondersteuners teen mekaar in Curriebeker-wedstryde opgeweeg, want daar was groot pryse in die destydse koerante en tydskrifte op die spel vir diegene wat op dieselfde golflengte as die keurwyses was.

Laataand is daar met groot afwagting in die voorhuis voor die radio gesit en wag totdat die span oor die Afrikaanse radiodiens uitgesaai is.

Dit was in nasionale belang, en die regstreekse uitsending van menige simfoniekonserte uit die Johannesburgse stadsaal is onderbreek om die ateljee-omroeper met die diep stem, soos Johan de Bruyn, Roelf Jacobs en Nick de Jager, kans te gee om die span uit te lees.

Dit was in die dae toe daar nog geglo is dat daar ʼn speler van Joodse afkoms of ʼn polisieman in die Springbokspan moes wees, om geluk te bring.

Heel vroeër, soos in 1937 voor die toer van vyf maande na Australië en Nieu-Seeland, is die Springbokspan van 29 toerlede van die balkon van die Metropole-hotel in Langstraat, Kaapstad aangekondig. Daar het dié aand meer as 3 000 ondersteuners voor die hotel saamgedrom om elke naam wat uitgelees is, luid toe te juig ‒ veral as hy boonop vir die Westelike Provinsie gespeel het.

Saterdag begin die Rugbykampioenskap wanneer die Wallabies die All Blacks in Sydney pak en die Springbokke op Kingspark in Durban teen die Argentynse Poemas speel.

Hoeveel skokke gaan daar in die spanne wees wanneer hulle Donderdag bevestig word?

Nie veel nie, want die oefengroepe is mos weke gelede al deur die deelnemende spanne se afrigters gekies en is reeds tot die finale groepe van 33 vir die reeks uitgedun.

Die Wallabies-afrigter, Michael Cheika, weet byna vir seker hoe die All Blacks-span daar gaan uitsien. Netso sal die All Blacks-afrigter, Steve Hansen, nie wakker lê oor die Wallabiesspan nie.

Ditto die Springbok- en Poemasspan.

Al wat gaan gebeur, is dat die knoppie op die rekenaar gedruk gaan word om sterk- en swakpunte van elke speler in die teenstanders se span uit te lig.

Daar bestaan nie meer ʼn verrassingselement nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Liamari ·

Ek dink die algehele mismoedigheid in die land spoel oor na alles insluitend die vreugde wat voorheen uit springbok rugby verkry kon word. Vandat politieke inmenging in sport so prominent geword het, het die trots en liefde vir bok rugby ook verflou.

Gollie ·

As ek net kan weet wat het politiek met die rugby van vandag te doen,en nie in die verlede nie.

koos1 ·

Die verrassingselement is nog daar………….. die Bokke kan wen!

cb ·

Geld……vandat geld in rugby ingekom het, het almal begin belangstel. Maak dit weer n amateur sport en alles sal weer verander. Net die wat wil speel sal agterbly.

Gollie ·

Seker geld ja….kyk na die soccer ook hulle haal nie wereldbeker nie,maar kyk hulle motors,solank hulle net geld kry.

Gollie ·

ja seker geld,kyk maar na die soccer ook hulle haal nie eers wereldbeker nie maar kyk na wat hulle ry

Bul ·

Spanne saamgestel op ‘n kwota basis kan nie op die hoogste vlak presteer nie. SA rugby sal daarom gemiddeld bly ten spyte van die massiewe talent op skoolvlak wat uiteindelik maar vir geld in Japan en Europa gaan speel. Bontebokke sal aanploeter in die middelste bondel….

Callie ·

Die hartseer van die kwotas is baie wyer as wat almal wil erken. Eerste is die wat sy reg ontneem word om te kompeteer. Tweede is die reg van elke span wat wil kompeteer om dit op n regverdige en gelyke grondslag te doen. Dan die reg van die ondersteuners om hul span, die beste wat daar is, te ondersteun. Hierdie is n baie siek opset in die land. As verdienste nie tel nie, tel integriteit en eerlikheid ook nie meer nie. Daar is nie n klein leun of n grote nie. Hoe leef n opregte Christen mens met die wete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.