Gardens, Spring Rose jag Oos-Kaapse titel

ec prov govGardens (Uitenhage) en Spring Rose (New Brighton) sal alles in die stryd werp wanneer hulle Saterdag op die WJ de Wetstadion op Despatch in die finaal van die Oos-Kaapse Super12-liga kragte meet.

Die twee klubs het na vore getree as die spanne om te klop in die reeks wat spanne uit Grens ingesluit het, en mik nou daarna om die eerste beker vanjaar in die Oos-Kaap in te palm.

Spring Rose is op die voorvoet nadat hy indrukwekkend vertoon het in die halfeindstryd toe hy met verlede jaar se kampioen, Oos-Londen Polisie, klaargespeel het.

Hy is vuur en vlam vir Saterdag se wedstryd, maar kom te staan teen `n klub wat `n instelling in die hoër range van OP-rugby is.

Gardens het die Super12-titel in 2014 gewen en was verlede jaar die naaswenner. Die span weet dus wat dit verg om die spanning van `n eindstryd te bowe te kom.

Hy het sy Uitenhaagse teenstander Progress naelskraap 13-12 in die halfeindronde geklop. Sy vertoning het die indruk gewek dat hy kan wen as sake taai raak en dit maak hom `n ernstige aanspraakmaker op die titel.

Een ding is seker, dit sal `n genadelose stryd wees.

Die program –

13:30 (vir derde plek): Progress teen Oos-Londen Polisie

15:30 (eindstryd): Gardens teen Spring Rose.

(Berig deur die OPRU verskaf.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.