ʼn Gewese hulpafrigter van die Springbokke, Gary Gold, se Amerikaanse span storm vanjaar steeds indrukwekkend voort.
Die Arende het Roemenië op eie werf in Boekarest oortuigend met 31-5 verslaan (rustyd 12-5).
Die Cheetahs-skrumskakel Ruben de Haas het vroeg in die kragmeting Amerika se eerste drie gedruk, maar moes die veld in die 72ste minuut met ʼn besering verlaat.
Dit is ‘n des te groter slag vir Gold se span omdat sy eerste keuse agter die skrum, die gewese Durbaniet Shaun Davies, ook beseer is en nie die toer meemaak nie.
Hanco Germishuys (bankflank), van Kimberley af, wat verlede week 70 m vir ʼn eie drie genael het, het teen die Eike ʼn puik breekslag uitgevoer voordat hy ʼn spanmaat oorgestuur het om te gaan druk.
♦ Fidji was in ʼn verwoestende bui teen Uruguay, en het getoon dat hy, aangevuur deur sy Olimpiese goue medalje in sewesrugby, groot planne vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan het.
Die Suidsee-eilanders het die Kiewiete in Hartpury, Engeland, met 68-7 kafgedraf (rustyd 35-7).
Eroni Sau (linkervleuel) en die nuweling Peceli Yato (agsteman) het elk ʼn driekuns behaal, en Ben Volavola (losskakel) se nege doelskoppe was 18 punte werd.
♦ Samoa se afrigter, Steve Jackson, moes ʼn tweede keer sy woorde oor die “swak” November-teenstand vir sy span sluk, toe Georgië die eilanders in Tbilisi, Georgië, met 27-19 geklop het.
Die besoekers was rustyd met 19-10 voor, maar die Lelos het die bordjies in die tweede helfte verhang.
Albei spanne het drie drieë gedruk, maar Tedo Abzhandadze (losskakel) se beter stelskopwerk – drie doelskoppe en twee strafdoele – het op die ou end die verskil gemaak.
Samoa het verlede week ook teen Amerika slae gekry.