Gatland kan koppe in Suid-Afrika stamp

Rob Howley (links) saam met Warren Gatland. Foto: (Brett Phibbs/New Zealand Herald via AP)

Warren Gatland is besig om ʼn regte klakous te word.

Gatland, ʼn oud‑All Black-haker wat tussen 1988 en 1991 altesaam 17 keer vir die All Blacks gespeel het, maar nooit vir Sean Fitzpatrick uit die toetsspan kon lig nie, se Chiefs-span kry nou die wind van voor in Nieu-Seeland se Aotearoa-reeks ná vier agtereenvolgende nederlae.

Oor afrigting kan jy Gatland baie min vertel, want hoeveel ander breiers kan daarmee spog dat hulle Taupiri in Nieu-Seeland, Galwegians, Thames Valley, Connacht, Ierland, London Wasps, Waikato, die Chiefs, Wallis en die Britse en Ierse Leeus met welslae afgerig het?

Maar nou haal hy die oudste truuk in die boek uit nadat die Chiefs vier keer in ʼn ry verloor het: dis die skeidsregter en beamptes se skuld.

Teen die Crusaders het die arme James Doleman deurgeloop en Sondagoggend is die skeidsregter Ben O’Keeffe oor die kole gehaal nadat die Hurricanes die Chiefs getroef het.

Sy klaery het nou oorgespoel na die kaptein, Same Cane, wat ook daaroor gebrom het dat O’Keeffe ʼn strafskop wat tot Jordie Barrett se monsterstrafdoel gelei het, op verkeerde plek toegeken het.

Dis nogal ironies dat daar amptelik nog nie ʼn woord gerep is oor Gatland en die All Black-kaptein se gebrommery nie.

Wees dus maar voorbereid daarop dat Gatland aanstaande jaar ook elke truuk in die boek sal uithaal wanneer die Britse en Ierse Leeus die blasers en beamptes (en Springbokke) in hul visier sal hê.

Al verskil is dat die nuwe Bokafrigter, Jacques Nienaber (eintlik maar Rassie Erasmus), nie in daardie strik sal trap nie.

Dis ʼn ou streek van sekere afrigters om die media, en dus die ondersteuners, te voer met inligting wat tot hul voordeel sal strek.

Maar wanneer jou span vier keer in ʼn ry verloor het, moet jy maar selfondersoek ook doen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae