Gatland kla bietjie, maar wens Bokke geluk

Pure Springbok-vreugde. Foto: GB Jordaan.

Volgens Warren Gatland was sy Britse en Ierse Leeus-span gisteraand baie meer avontuurlustig as in die vorige twee toetse. Die bal is meer tussen die spelers rondgeslinger, aanvallende lynstane is bo stelskoppe gekies en Finn Russell het ongetwyfeld ’n verskil in die nommertientrui gemaak.

Tog het hulle steeds die wedstryd én die reeks verloor.

“Dit was nou ’n ordentlike toetswedstryd – taai en fisiek, maar juis wat ’n mens van ’n Leeus-toer verwag,” het Gatland gesê.

Warren Gatland. (Foto: Adrian DENNIS/AFP)

Die uitgeslape Leeus-breier, wat deur sommige kenners as een van die beste afrigters ooit bestempel word, meen dit is g’n maklike taak om die Springbokke in hul eie agterplaas aan te vat nie. Hy is egter ook trots op sy spelers se vertoning.

“Ek is natuurlik teleurgesteld, maar ek dink ons het dapper, positiewe rugby gespeel. Ons het ’n paar van ons kanse nie benut nie, terwyl die bal in die Bokke se guns gespring het toe hulle ’n drie teen die verloop van spel gedruk het. Dan het ’n paar van die 50/50-beslissings nie in ons guns getel nie.

“Enige span kon seker die wedstryd gewen het, maar ek wil wel die Springbokke gelukwens.”

Morné Steyn laat waai met die regtervoet. Foto: GB Jordaan.

Gatland was een van sir Ian McGeechan se assistente toe die Leeus in 2009 hul Suid-Afrikaanse safari met 2-1 verloor het. Morné Steyn se skopvoet het toe – net soos gisteraand – ’n deurslaggewende rol in die reeks gespeel.

“Ja, dit is nogal ’n gevoel van déjà vu,” het Gatland gesê. “Maar ons het meer strafskoppe (15-12) afgestaan en in internasionale rugby is dit van sleutelbelang om minder as tien strafskoppe per wedstryd af te staan. Dit kan die verskil tussen wen en verloor wees.”

Die 57-jarige oudafrigter van Wallis was aan die stuur van sake toe die Bokke die Rooi Drake in die halfeindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan geklop het. Die eindtelling was destyds ook 19-16.

“Met die telling op 16-elk het ek ’n bietjie aan daardie wedstryd in Japan gedink. Een van die spanne gaan teen die einde van die kragmeting ’n geleentheid kry om punte aan te teken; ongelukkig was dit ons wat gestraf is en drie punte moes afstaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

MakersMark ·

Uiteindelik iets positiefs van die makker. Nie net is sy span op die veld geklop nie maar het hy die bekgeveg en sielkundige oorlog teen Rassie verloor. Bokke is ware wereldkampioene.

Vrijburger ·

Mmmm vergelyk nou Gatland se reaksie met kermende Rassie se slagoffermentaliteit.

MakersMark ·

Na eerste toets se uiterse swak skeidsregters vertoning het die bokke en Rassie alle reg gehad om soos slagoffers te voel. Inteendeel, wie het eerste pers toe gedrawwe met die aanwysing van die SA TV ref? Gatland natuurlik. Na die eerste toets het Rassie in die pers sy sê gesê en die bokke op die veld. Die res is soos hulle sê – geskiedenis. Briljante bok vertoning op en van die veld af. Rassie ingesluit.

MakersMark ·

Baie hier wat uiters bitterbal is dat die bokke gewen het. Wil so graag net ‘n wit bok span sien. Dalk moet orania ‘n rugby span kry.

Vrijburger ·

Rerig, maak die waarheid so seer dat die raskaart getrek moet word?

(Terloops, vir my is dit irrelevant of die Springbokke wen of verloor, of hoe die spansamestelling lyk. En daar faal, daai strooipop argument ook.)

Vrijburger ·

Lees weer, maar die keer met aandag: “…vir my is dit irrelevant of die Springbokke wen of verloor, of hoe die spansamestelling lyk.”

Mmmm om die raskaart te trek en daar is geen bewyse van rassisme nie (bloot net die persoon se aannames en eie narratief) – is ‘n vorm van rassisme opsig self.

Kokkie ·

Ek stem eenhonderd persent met jou saam, Vrijburger. Die Bokke het weliswaar die reeks gewen, maar myns insiens wêreldwye respek en ondersteuning verloor. Rassie se kleinlike sirkus het alle grense van ordentlikheid oorskry. Dis altyd lekker om te wen, maar die manier waarop gewen word, moet ook onberispelik wees. Dan is jy ‘n ware en trotse kampioen.

Dirk Mostert ·

Morne se stelskopwerk is goed, maar sy taktiese skoppe swak. Sy getastery na die bal agter die Bokke se doellyn kon ons die wedstryd gekos het. Die Leeus was die beste span op die veld, maar het nie pale toe gemik toe daar geleenthede was nie.

MakersMark ·

Bokke was die beste toe dit getel het. En dis die merk van kampioene. As is verbrande hout.

piet ·

Beste Bok-spelers van die reeks: Kolisi, Etsebeth, De Allende, Am, Mostert. Willie was ook beter as gewoonlik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.