Gatland kla ook oor wedstrydtempo

Warren Gatland. (Foto: Adrian DENNIS/AFP)

Volgens Warren Gatland, afrigter van die Britse en Ierse Leeus, het die Springbokke opsetlik in verlede week se tweede toets na maniere gesoek om die wedstryd onnodig uit te rek.

Die beskuldiging volg kort op die hakke van Ian Foster, All Blacks-afrigter, se stelling dat die twee spanne se spel in die toets hom aan die slaap gesus het.

Die Springbokke het die wedstryd met 27-9 gewen om die reeks aan die gang te hou en hulle het veral die laaste 40 minute van die spel oorheers.

Maar weens al die onderbrekings het die wedstryd 126 minute geduur en volgens die Kiwi-breier was dit moeilik om sy oë oop te hou.

Nou meen Gatland egter dat sy span sy bes gedoen het om die tempo van die wedstryd vinniger te maak.

“Ons wil skrums en lynstane so gou as moontlik afhandel sodat die spel kan vloei. Maar Suid-Afrika stel tans nie daarin belang nie en dit is frustrerend,” het Gatland gesê.

“Ek weet dat Alun Wyn Jones gereeld met die skeidsregter oor hierdie dinge gepraat het – daar was omtrent by elke skrum iemand beseer, spelers het aan hul stewels gekarring of die spel is gestop omdat ’n iemand anders met krampe sukkel. Ons kan nie toelaat dat ’n helfte 60 minute duur nie.”

Volgens Gatland het verlede week se wedstryd (vanuit ’n toeskouer se oogpunt) nie vir veel vermaak gesorg nie.

“Soos reeds genoem sal dit help as die spelers nie gereeld stop en sê hulle is beseer nie. Ons wil hê die spel moet vloei want dan speel ons baie goeie rugby.”

Intussen is Kyle Sinckler deur ’n Wêreldrugby-tugkomitee – wat met Australiese verteenwoordigers gelaai is – onskuldig bevind aan die bewering dat hy vir Franco Mostert gebyt het.

Die uitgeslape Gatland het waarskynlik hierdie beslissing voorsien want die 28-jarige stut was reeds by sy aanvanklike span vir die derde toets ingesluit.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

MakersMark ·

Gatland raak soos ‘n huilende skoolseun. Bokke het hulle pap geskrum en gedryf laasweek. Geen wonder hy wil dit gou verby kry nie.

Anoniem ·

Mnr Gatland (in Afrikaans uitgespreek) ‘n span speel na sy sterk punte, so jy verwag dat die Bokke na jou sterk punte moet speel? Indien wel, is jy verwaand.

tweeling ·

Ek sal soos Ian Foster ook aan die slaap wil raak, wonder of hy besef hulle is 10 ure voor SA. Nog nie eens behoorlik wakker nie.

B-Man ·

Ek weet nie waarvan hierdie manne praat nie. Die wedstryd was vir my baie vermaaklik en ek het elke sekond gekyk.

Tubac ·

Ou taktiek wanneer ek nie te fiks is nie. Ek dink Rassie moet ook n bohaai daaroor maak.

Riaan ·

Wel ek sal ook aan die slaap raak as dit 4 uur in die oggend is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.