Gatland op Nieu-Seeland se afrigter-kooplysie

Steve Hansen se opvolger word gesoek

In Nieu-Seeland word daar in hoë kringe gepraat van Warren Gatland as die man wat die huidige All Blacks-afrigter, Steven Hansen, ná die 2019 Wêreldbekertoernooi sal opvolg – en Wallis is selfs  heeltemal bereid om hom te laat gaan as hy dit vroeër wil doen.

Hulle verwag egter dat die afrigter van die Britse en Ierse Leeus sy kontrak by Wallis sal deursien, het die uitvoerende hoof van die Walliese Rugby-unie, Martyn Phillips aan BBC Sport, gesê.

“Die posisie (as hoofafrigter) is kritiek vir Walliese rugby. Maar ons sal nie ʼn man in die pos wil hê wat nie daar wil wees nie. As hy regtig wil gaan, moet hy dit doen.”

Gatland, wat as afrigter reeds sedert net na die 2007 Wêreldbekertoernooi in die pos as hoofafrigter van Wallis is – die langste nog – het twee Grand Slams en ʼn Sesnasiestitel as afrigter gewen.

Hy het op die huidige toer van die Britse en Ierse Leeus kwaai deurgeloop omdat die toerspan teen van hulle nie-toets-teenstanders gesukkel en selfs verloor het, maar het deurentyd gesê die mikpunt is om die toetsreeks te wen.

Nou is Gatland binne ʼn enkele wedstryd van daardie doelwit wat nog net deur een Britse Leeus-toerspan, in 1971, vermag is.

Gatland is natuurlik ʼn Kiwi. Sy seun het vanjaar al vir die Blues gespeel en ook teen sy pa se Leeus as losskakel vir die provinsiale Barbarians uitgeblink.

♦  Gatland is egter nie die enigste oorsese afrigter na wie die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZRU) as opvolger vir Hansen kyk nie. Die Ierse afrigter, Joe Schmidt, is glo self ʼn sterk kandidaat, veral ná Ierland se sukses die afgelope paar jaar en veral nadat hulle die All Blacks verlede jaar in Chicago geklop het.

♦  Vern Cotter, tot onlangs nog die Skotse afrigter, wat nou by Jake White as afrigter van Montpellier oorgeneem het, is glo ook op die lysie van die NZRU. Hy is self ʼn Nieu-Seelander en het onder meer in Nieu-Seeland eersterangse rugby gespeel.

♦  Ian Foster, hulpafrigter by die Wêreldkampioen, is natuurlik ook nog in die prentjie.

Die NZRU sê hy sal later vanjaar die proses bekend maak waarvolgens Hansen se opvolger aangewys sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.