Gavin Johnson verdien ook ʼn ereplek in Springbok-annale

Gavin Johnson. Foto: Twitter.

Wanneer jy André Joubert en James Small in Springbok-opdrafspanne in ʼn toets vervang en geen probleem daarmee het nie, dan het jy as afrigter behoorlik raakgevat.

Dit is die verhaal van Gavin Johnson, nog een van die onbesonge helde van Springbokrugby.

Johnson, nou 53, het in sewe toetse tussen 1993 (onder Ian McIntosh as afrigter) en 1995 vir die Bokke gespeel en was nie een keer in ʼn verloorspan nie.

Dit het in 1994 die tweede toets teen die All Blacks in Auckland ingesluit, toe die Bokke met 18-elk gelykop gespeel het en hy vir John Timu in toom gehou het.

Johnson het sy debuut in die tweede toets in 1993 in Buenos Aires teen die Argentynse Pumas in die plek van Joubert gemaak en die Bokke tot ʼn oorwinning van 52-23 aangespoor.

Johnson het 22 punte bygedra, wat ʼn drie, vier doelskoppe en drie strafdoele ingesluit het.

Johnson het Gerald Bosch se rekord van 22 punte in ʼn toets, wat hy in 1975 teen die Franse opgestel het, geëwenaar.

Hy was in vier toetse Small se plaasvervanger as regtervleuel in die Bok-opdrafspan en het Joubert drie keer as heelagter vervang.

Johnson het 86 punte vir die Bokke aangeteken en met hom in die span het Suid-Afrika 255 punte aangeteken en net 93 afgestaan. Dit is ʼn gemiddeld van 36-13.

Johnson was nie ʼn egte plaasvervanger, of afronder, soos Rassie Erasmus en Eddie Jones deesdae die agt spelers op die bank noem nie.

Johnson was in die beginspanne, hy was ʼn integrale deel van die wenplanne en enduit op die veld.

Ek onthou toe hy destyds vir Kitch Christie (afrigter) van Pretoria na Johannesburg gevolg het. Daar is toe gesê dat hy nie kan verdedig nie en dat sy leemtes uitgewys sou word, maar hy het almal verkeerd bewys. Hy sou glo ook onder hoë skoppe wankel, is daar destyds geskinder.

Hy het onder Christie in die Transvaalspanne gedy wat die Super10-, Curriebeker-, Lionbeker-, M-Net se aandreeks en Percy Frames-trofee gewen het.

Sy “wankelrige” verdediging is nooit ontbloot nie en hy 1 157 punte vir Transvaal in vyf seisoene aangeteken (gemiddeld van 15,42) voordat hy na Saracens in Londen geskuif het waar hy ʼn verdere 363 punte in 37 wedstryde aangeteken het.

Johnson sou waarskynlik baie meer vir die Bokke gespeel het as hy nie teen Joubert en Small moes meeding nie, maar hy het steeds die min kanse wat na sy kant toe gekom het, met albei hande aangegryp.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

My pad het jare terug op Hoedspruit met die merkwaardige “jong” man gekruis. Pas uit die skool op Pietersburg en besig met diensplig in die Lugmag. Wat ‘n aangename en voortreflike jong man. Uiters begaafde sportman!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.