GB (B): SWD-span het byltjie met Impala te slyp

Goue BekerEvergreens, die Suidwestelike Distrikte (SWD) se Premierligawenner, het `n byltjie met Rustenburg Impala te slyp wanneer dié twee spanne later vanjaar in Groep B van die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker kragte meet.

Die span van Pacaltsdorp het in 2013 die kwarteindronde in die reeks (destyds nog die Gemeenskapsbeker) gehaal, maar Impala het hom 50-10 in die uitspeelstryd verniel. Die SWD-kampioen was verlede jaar 12de.

Groep B is saamgestel uit Rustenburg Impala, verlede jaar se naaswenner en die Luiperds se voorste nie-universitêre klub; Pirates, die Goue Leeus se voorste nie-universitêre klub; genoemde Evergreens; Northam, die Limpopo Blou Bulle se kampioen; en Wanderers van Windhoek, Namibië se voorste nie-universitêre klub.

Dis die enigste groep waarvan al die deelnemers reeds bevestig is.

Impala het nog elke jaar aan die reeks deelgeneem, was in 2013 vierde en het dit die volgende jaar gewen. Verlede jaar het Durbell hom 31-30 in die eindstryd geklop.

Vir Pirates, Northam en Wanderers is dit `n eerste kennismaking met die Goue Bekerreeks.

logo-piratesNuweling mik na kwarteind

♦ Brad Wilken, die hoofafrigter van Pirates, reken die loting in Groep B verseker `n baie strawwe rondomtaliestryd.

“Impala se rekord as gewese kampioen en verlede jaar se naaswenner spreek vanself.

“Evergreens is bekend vir die geweldige steun van sy tuisskare en as ons weg teen hom speel, sal dit besonder taai wees.

“Northam het `n klompie vars rekrute van Raiders af en het Saterdag die Pukke se tweede span geklop. Hy sal `n gedugte teenstander wees.

“Ten slotte is Wanderers `n onbekende faktor en daar is `n goeie kans dat sy toetsspelers terug in die span is teen die tyd dat Pirates teen hom speel.”

Wilken het aan Pale Toe! gesê 95 spelers oefen tans by Pirates en ding om `n plek in die span mee. Die voorbereiding vorder goed.

“Pirates sal altyd mededingend wees, en met stille selfversekerdheid is die die klub se doelwit om vir die uitspeelronde in aanmerking te kom.”

Northam-logoNortham gaan nie terugstaan

♦ Flip de Kock, die sekretaris van Northam, sê uit gesprekke met die spelers blyk dit dat hulle gretig is om hul talent teen die beste te toets.

“Ons klub sien baie na die toernooi uit,” het hy aan Pale Toe! gesê, “en mens kan die opgewondenheid sommer in die klub aanvoel.

“Northam gaan gewis hard werk en geensins terugstaan vir enige teenstander nie. Ons wil wys dat selfs `n reserweliga klub nie onderskat moet word nie.”

Danny Gonsalves, die klub se president, bestempel die loting as baie straf vir `n nuweling wat sy pad uit die range van `n reserweliga boontoe stry.

“Dit gesê, is ons eerste doelwit om mededingend in die toernooi te wees, om sodoende Limpopo in die rangorde op te skuif.”

(Pietersburg Noordelikes, wat Limpopo die afgelope drie jaar in die reeks verteenwoordig het, het elke keer 19de gekom.)

wanderers windhoekWanderers teiken toptwee

♦ JP Nel, die hoofafrigter van Wanderers, het aan Pale Toe! gesê al die spanne is redelik onbekend vir hulle.

“Ons weet hoe sterk Rustenburg Impala is en dat hy verlede jaar in die eindstryd gespeel het.

“Van die res weet ons nie veel af nie en ek dink ons is ook `n relatiewe onbekende faktor vir hulle, iets wat in ons guns sal tel.

“Wanderers se mikpunt is gewis om tussen die toptwee in ons groep te eindig”, het die gewese Blou Bul-senter gesê.

Nel sê sy manne sien baie na die oop klubs se reeks uit, maar moet steeds eers op die Namibiese Premierliga fokus.

“Ons sal dus ons planne vir die Goue Beker agtermekaar kry, terwyl die spelers hulle toespits op die seisoen wat voor lê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.