GB: bitter min tussen agt topspanne te kies

durbell-logo.squareDaar is bitter min, indien enigsins, te kies tussen Suid-Afrika se agt beste oopklubspanne wanneer hulle mekaar Saterdag in die kwarteindronde van die internasionale reeks om die Goue Beker aan die strot vat.

Die ou-ou waarheid dat die span wat die minste foute maak die wedstryd wen, sal des te meer geld en vir selfgenoegsaamheid is daar nie plek nie.

Dit word selfs statisties onderskraag deur `n oppervlakige ontleding van die kaarttelling in die groepfase van die reeks. Die spanne wat uitgeskakel is, het gemiddeld 0,33 rooi en 3,5 geel kaarte per span ontvang. Die agt finaliste se syfers in dié opsig is 0,13 en 2,63 onderskeidelik.

evergreens-logoDie verdedigende kampioen, Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie), is nogal die ergste sondaar tussen die topagt met `n rooi en drie geel kaarte. Evergreens van Pacaltsdorp (Suidwestelike Distrikte), Brakpan (Valke), Rustenburg Impala (Luiperds) en College Rovers (KwaZulu-Natal) het elk drie geel kaarte gekry. Valsbaai (Westelike Provinsie) en die twee Polisiespanne van Port Elizabeth (Oostelike Provinsie) en Pretoria (Blou Bulle) het die skoonste rekord met twee geles elk.

Durbell teen Evergreens

♦ Strafdoele sal na alle waarskynlik juis `n belangrike rol speel in Durbanville, pretoria polisiewaar albei spanne swaar op die skopstewels van die reeks se twee toppuntemakers, Tiaan Radyn (Durbell) en Leegan Moos (Evergreens), kan staatmaak.

Durbell het ooglopend die temperament om op hierdie vlak te presteer. Verlede jaar was hy die allerlaaste span om ná `n heruitdun vir deelname aan die reeks in aanmerking te kom – om dit uiteindelik in `n naelbyt-eindstryd teen die verdedigende kampioen, Impala, te wen. Vanjaar is hy wéér daar nadat die span grootliks deur `n nuwe afrigter herbou moes word. Uittredes, beserings en provinsiale kontrakte het die wengroep van 2015 dermate uitgedun dat slegs 14 van hulle tussen vanjaar se 31 tel.

Evergreens het op sy beurt getoon dat hy oor `n veggees soos min beskik, en het telkens vanjaar van agter af gekom om `n wedstryd te beklink.

Valsbaai-logoNaas Moos beskik die klub ook oor die diens van Duwayne Smart en Freginald Africa, twee van die voorste driedrukkers in die reeks.

Pretoria Polisie teen Valsbaai

♦ Met die wedstryd wat deur Supersport (Kanaal 197) gebeeldsaai word, sal die kollig landwyd veral op die kragmeting 15:15 op Loftus Versfeld, Pretoria, tussen die plaaslike Polisie en Valsbaai val. Dis `n voorwedstryd vir die Curriebeker-halfeind tussen die Blou Bulle en die WP en `n Noord-Suidstryd in die kleine.

Polisie, die verdedigende Plaatkampioen, was vanjaar wisselvallig in die Blou Bulle se Carltonliga en is in die halfeindronde deur die uiteindelike kampioen, Centurion, uitgeskakel. Hy het egter merkwaardig herstel en is dusver onoorwonne in die nasionale reeks.

rustenburg impalaValsbaai, het in die groepfase teen Brakpan vasgeval, maar die mededinging was veel strawwer in sý groep as wat dit in Polisie se geval was.

Die Baai spog met drie van die vyf voorste driedrukkers in die reeks in Danie Roux (ses), Mustaqeem Jappie (vyf) en Riaan O’Neill (vier), gerugsteun deur die skopskeon van Andri Claassen, nommer vyf op die lys puntemakers.

Ian van Deventer van Polisie het ook vier drieë in die groepfase gedruk, maar dis duidelik dat die Bobbies sal moet bontstaan op die verdediging, `n aspek waar hulle vroeg in die reeks nie heeltemal oortuig het nie.

college roversImpala teen Rovers

♦ Rustenburg Impala het dusver in die reeks `n indruk van onoorwinlikheid geskep, maar dit sal `n fout wees om College Rovers sonder meer af te skryf, al speel hulle in Rustenburg.

Die Natallers kan op die knoppie druk van Tythan Adams, met sewe besoeke agter die doellyn die voorste driedrukker dusver in die reeks, en Jandré Jacobs, wat vier gedruk het.

Brakpan-logoLeon du Plessis, verlede jaar se speler van die reeks en Suid-Afrika se klubspeler van die jaar, speel steeds blink rugby vir Impala – hy het self vyf drieë gedruk – en die betroubare Cecil Dumond is `n gedeelde derde tussen die puntemakers.

Brakpan teen PE Polisie

♦ Nes Impala was Brakpan dusver indrukwekkend in die reeks, waar die Baaise Bobbies tweede was in `n groep wat nie veel om die lyf gehad het nie.

pe polisieBehalwe die Panne se losskakel, Gido Horn, wat die derde plek met Dumond deel, is daar nie van die voorste puntemakers in aksie nie.

Die tuisspan lyk in die Bosmanstadion, Brakpan, die naaste aan `n gunsteling wat die kwarteindronde betref, maar Polisie sal voluit gaan om sy eer te verdedig.

Laasgenoemde het seker die beste vordering in die reeks getoon deurdat hy verlede jaar tussen die agterosse in die nasionale reeks was en vanjaar tussen die topagt tel.

Wat hom gevaarlik kan maak, is dat hy verlede jaar op `n omstrede wyse die OP se Grootuitdaagreeks gewen het, en vanjaar in die uitspeelronde uitgeskakel is. Dié Bobbiespan het dus veel meer as die Goue Beker om voor te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.