GB: Brakpan moes twee keer die pyp rook

Brakpan-logoDie feit dat Brakpan (Valke) “twee keer” vir die internasionale reeks om die Goue Beker in aanmerking moes kom, dien as `n groot aansporing vir die span.

Só sê Harry Nieuwenhuis, die klub se voorsitter, na aanleiding daarvan dat die klub weer vanjaar die Valke se Peregrineliga moes wen nadat hy dit verlede jaar ook reggekry het.

Die ander bonde het hul 2015-kampioene vir die reeks ingeskryf, maar die Valke-rugbyunie het besluit vanjaar se wenner sal hom verteenwoordig.

Nieuwenhuis het aan Pale Toe! gesê die span het baie hard gewerk veral ten opsigte van sy speelpatroon, en die algemene fiksheid sowel as akkuraatheid was hoog op die sakelys.

“Brakpan se voorbereiding was dus deeglik, en die komende drie weke sal gebruik word om seker te maak die span is op alle vlakke gereed.”

Hy sê hulle weet niks van Valsbaai, die Panne se eerste teenstander, af nie en dit bemoeilik sake, “maar in die Bosmanstadion bepaal die Panne gewoonlik hoe `n wedstryd verloop, en ons vertrou dit sal weer so wees”.

Nieuwenhuis sê die span het tans geen ernstige beserings nie, en die groep oefen voluit.

“In dié verband is ons gelukkig.”

Hy meen dit kan teen die Panne tel dat die span in die Valkeliga dalk `n bietjie te gewoond aan groter tellings geraak het.

“Oorgerustheid en te veel selfvertroue sal dus bestuur moet word, want maklike wedstryde gaan daar nie in die Goue Bekerreeks wees nie.”

Nieuwenhuis sê Brakpan het `n baie sterk en ervare agtal wat mekaar goed ken. Saam met goeie lynstaanspringers en `n goeie agterste driehoek is die kombinasie al getoets, en sover het hulle alles verwerk waarmee hulle te kampe gekry het.”

Hy sê almal verstaan dat geleenthede soos die reeks om die Goue Beker skaars is.

“Om op die hoogste verhoog te presteer, bly `n uitdaging – maar ook `n besonderse eer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.