GB (C): Onbekende faktore laat nog raai

Goue BekerTwee onbekende faktore het die spanne in Groep C van die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker nog aan die raai.

Die Valke het nog nie hul verteenwoordiger in die reeks aangewys nie en Zimbabwe se verteenwoordiger sal eers tydens `n reeks uitspeelwedstryde in Junie bepaal word.

Brakpan het verlede jaar die Valke se Peregrineliga gewen, maar onbevestigde berigte wil dit hê dat dié bond en die SA Rugbyunie verskil oor die wyse waarop die Valke-deelnemer bepaal moet word.

Die res van die groep bestaan uit Valsbaai, die voorste oop klub verlede jaar in die Westelike Provinsie (WP) se Superliga A, Durban Collegians, die KwaZulu-Natalse Rugbyunie (KZNRU) se Moorbekerkampioen, en Witrivier, die Pumas se Superligakampioen.

Dis die eerste keer dat Valsbaai aan die nasionale reeks deelneem; Collegians het verlede jaar met sy eerste probeerslag net-net die kwarteindronde misgeloop; en Witrivier was met sy vorige deelname in 2013 18de.

valsbaaiSewentien taaies om Valsbaai te brei

♦ Die nuweling DirectAxis Valsbaai is gretig om in die toernooi te beïndruk, berig die klub se mediawoordvoerder, Jon Harris.

“Die klub het talle hoogte- en `n klompie laagtepunte in sy bestaan van 87 jaar beleef wat alles sy eiesoortige karakter help vorm het. Die onbetwisbare hoogtepunt was toe hy die WP se Grootuitdaagbeker gewen het, in die dae toe klubrugby groot getalle spelers gelok en duisende toeskouers die wedstryde op Nuweland bygewoon het. Dit was `n paar jaar voor die koms van TV na Suid-Afrika.

“Daardie sukses het met `n redelike mate van teleurstelling en mislukking gepaard gegaan. Die klub is in 2003 na Afdeling 1 (nou die Superliga C) afgeskuif en baie het dit as die doodsklok vir die klub in die Suidelike Voorstede beskou,” skryf Harris.

“Die gees wat die klub onderlê, is swaar beproef, maar `n tydperk van algehele sukses het gevolg wat net deur 1972 se sukses in die skadu gestel is. Dit het selfs die sukses onder Nick Mallett [die latere suksesvolle Springbokafrigter] in 1994 en 1995 oortref.”

Hy sê deelname aan die Goue Bekerreeks is die beloning vir verlede jaar se prestasie. Dit volg egter op `n volgende seisoen, wat baie verwag `n bevestiging van die vorige jaar se sukses sal wees, en `n bewys dat 2015 geen gelukskoot was nie.

Jono van der Walt, Valsbaai se hoofafrigter, sê dis `n interessante seisoen omdat die klub reeds seker van sy deelname aan die Goue Beker aan die einde van die jaar is.

“Ons het egter steeds drie strawwe vriendskaplike wedstryde en 14 ligawedstryde voor ons eers aan die nasionale reeks kan dink,” het hy versigtig aan Pale Toe! gesê.

Trouens, daardie vriendskaplike wedstryde is teen die heersende Gemeenskapsbeker-kampioen, Durbanville-Bellville, `n gewese SA klubkampioen, Hamiltons, en `n gewese Varsitybekerhouer, die Maties.

“Valsbaai se deelname het reeds die rugbypubliek aan die gesels en die opgewondenheid is aan `t toeneem,” sê Van der Walt.

“Ons weet nie veel van die ander spanne in ons groep nie, en sal gewis geen wedstryd as maklik beskou of `n oorwinning as vanselfsprekend nie.”

Hy sê die Baai sal insgelyk `n onbekende faktor vir die res en die spelers en bestuur is opgewonde oor die vooruitsig om teen die beste klubs in Suid-Afrika mee te ding.

Van der Walt reken die reeks is uiteraard interessant omdat dit verskillende speelstyle uitstal en deurentyd as `n smeltkroes vir die spanne se vermoëns en karakter dien.

“Ons is die groentjies, dus is ons bloot tevrede om deel van die reeks te wees. Dit (2016) sal `n gedenkwaardige jaar vir Valsbaai wees omdat dit die eerste keer is dat ons om die Goue Beker speel.”

Harris verwys na die 17 strawwe wedstryde voor die reeks om die Goue Beker en vra wie kan om `n beter oefengrond as die WP se Superliga A vra.

collegiansStappie vir stappie vir Collegians

♦ Robin Swanepoel, die hoofafrigter van SA Home Loans Durban Collegians, sê dis vir die klub `n eer om aan die reeks deel te neem en dit ly geen twyfel nie dat daar geen maklike wedstryd sal wees nie.

“Collegians het 12 Januarie begin oefen en sal die wedstryde stappie vir stappie benader, wel wetende dis `n lang pad na die Goue Beker. Onderweg moet ons nog ons titel in `n uiters strawwe KZN-liga verdedig.

“Ons sal ons bes doen eh hopelik dal die resultate op ons harde voorseisoense oefening nie uitbly nie.”

Swanepoel sê hulle het heelwat vriendskaplike wedstryde voor die seisoen begin en vertrou dit sal die span goed te pas kom in die tot stand bringing van die platform wat ons wil bewerkstellig.

Dit het `n interne sewestoernooi op 13 Februarie ingesluit; `n kragmeting teen Jaguars volg op 27 Februarie; daar is `n oefenkamp op 5 en 6 Maart; `n wedstryd teen Griekwas se Curriebekerspan op 8 Maart; die Ronnie van Rooyen-gedenkdag op 12 Maart; en die Flya-toernooi op 18 en 24 Maart.

“Ons is ogewonde oor wat voor lê en die uitdaging om ons KZN-titel te verdedig,” het Swanepoel aan Pale Toe! gesê.

Jaco Bouwer (Foto: Pumas Rugby)

Jaco Bouwer (Foto: Pumas Rugby)

Knap sakelui help Witrivier

♦ Bennie Pringle, die voorsitter van Witrivier, sê toe dit in Desember bevestig is dat die klub Mpumalanga in die nasionale reeks sal verteenwoordig, het die bestuur dadelik aan die werk gespring om die klub op die beste voet moontlik te stel.

“Ons het twee uitmuntende Laeveldse sakemanne, Riaan Venter, en Pierre de Villiers, in die klub se dinamiese bestuur betrek. Elkeen het diep spore in sy bepaalde veld getrap, en hulle werk reeds hard om die klub se sukses in 2016 te verseker,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Pringle sê `n groot tekortkoming verlede seisoen was dat die klub net een afrigter gehad het – Joos Joubert, wat hoofsaaklik `n agterlyn afrigter is. Vanjaar het hulle ook die diens van Reghardt Meyer as tegniese raadgewer, Freek Carelse as voorspelerafrigter en Ian Smit wat na die span se kondisionering sal omsien.

Meyer was verlede jaar die hoofafrigter van die Laeveldse amateurspan wat in die Noordelike bonde se toernooi teen die Blou Bulle vageval het, wat uiteindelik die nasionale amateurkampioen was. Hy het ook die Hoërskool Nelspruit se eerste span met groot sukses afgerig.

Carelse het `n groot hand gehad in die kondisionering van die Pumasopan wat verlede jaar die Vodacombeker gewen het, en het met welslae by Ermelo en Komatipoort afgerig.

witrivierPringle sê Witrivier het twee van sy ysters in die enjinkamer verloor. Die vaskopstut Jacques Kotzé het `n kontrak by die Pumas gekry en Christo Lategan is deur die Tshwane Universiteit vir Tegnologie vir die Varsityskild nader getrek.

“Die betuur het egter hard gewerk manne soos Jaco Bouwer (Pumas), Jacques Verwey (Valke), Eldred James (SWD), Denys Snyman (Sharks o.21) by `n reeds uitgelese groep spelers te voeg.

“Ons verkeer onder geen illusie nie dat die pad na die kwartfeindstryde straf sal wees, met klipharde wedstryde wat ons diepte kwaai sal beproef.

“Vir eers moet ons ons egter op die plaaslike liga toespits. Ons wil weer die klubkampioen wees en aan almal toon dat ons verdien om in die reeks om die Goue Beker te speel.”

Pringle sê Witrivier mik na die topagt in die nasionale reeks.

“Om op daardie vlak mededingend te wees, help dit nie ons kla dat ons nie ons spelers betaal, of dat ons nie diepte of nie genoeg spelers het om met die groot honde saam te blaf nie.

“Dis ons oorgawe en ywer wat ons sukses sal bepaal. Dit het verlede jaar reeds na vore getree het, en is vanjaar aangewakker om aan ons gemeenskap te toon ons hoort in die reeks on die Goue Beker,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.