GB: College Rovers wil dié slag beter as sesde

college roversCollege Rovers (KwaZulu-Natal) was erg teleurgestel in sy sesde plek in verlede jaar se reeks om die Goue Beker, en is vasbelote om vanjaar daarop te verbeter.

Só sê die klub se hoofafrigter, Derek Heiberg, wat glo die lang paadjie wat Rovers moes stap om vir die reeks in aanmerking te kom, strek uit `n voorbereidingsoogpunt bloot tot die span se voordeel.

Rovers moes eers die KZN Moorbeker (Premierliga) en toe twee klipharde uitspeelwedstryde teen Raiders (Goue Leeus) en Centurion (Blou Bulle) wen om sy plek in die uitgesoekte twintigtal te kan inneem.

Heiberg sê die strawwe uitspeelwedstyde het die span `n goeie aanduiding gegee van hoe moeilik die groepwedstryde sal wees.

“Dit het ook bepaalde leemtes uitgewys wat Rovers voor sy eerste wedstryd op 17 September sal moet regstel,” het hy aan Pale Toe! gesê.

Met die uitsondering van een of twee spelers is die hele spangroep beskikbaar vir die reeks.

“Gary Collins en Kyle Wilkinson, ons twee senters wat buitengewoon goed op dreef was in ons onoorwonne Moorbeker-veldtog, sukkel albei tans met beserings, maar behoort binnekort terug in die tuig te wees.”

Heiberg sê die aard van die reeks verseker dat daar geen maklike wedstryde is nie.

“Geen span wat sy spelpeil versaak, kan verwag om die gewenste resultaat te bereik nie. Rovers glo sy grootste uitdaging is om sy intensiteit en fokus te handhaaf elke keer wat hy speel, met die oog daarop om die prestasie-rigsnoer te bereik wat hy vir homself stel.

Chris Jordaan - tiende klubtoernooi. (Foto: Twitter)

Chris Jordaan – tiende klubtoernooi. (Foto: Twitter)

“Rovers speel `n opwindende hoëtemporugby, wat sake werklik moeilik vir die verdedigers maak as dit reg uitgevoer word.”

Heiberg sê die span beskik oor `n eersteklas mengsel van jeug en ervaring. Die kaptein, Chris Jordaan, speel in sy tiende klubkampioenskap, terwyl dit vir ander `n eerste keer is.

Die afrigter sê Rovers het `n besonderse klubkultuur geskep waar die spelers vir mekaar speel en die spelstelsel geniet.

“Dis `n kenmerk van ons sukses die afgelope twee jaar waarin ons slegs een uit 27 wedstryde verloor het.”

Heiberg sê die hoeveelheid talent in Suid-Afrika verbaas, en hy deel die sentiment wat Johann Kluyts van Pretoria Polisie vroeër teenoor Pale Toe! uitgespreek het dat klubspelers nie altyd die erkenning kry wat hulle verdien nie.

“Dis een van die redes waarom die reeks om die Goue Beker so belangrik is. Dit bied klubspelers die geleentheid om hul vaardigheid uit te stal en te bewys hulle het die vermoë om op provinsiale of nasionale vlak te speel soos Garth April verlede jaar reggekry het.

“Ons kan nie wag nie om te sien wie vanjaar se uitskieter sal wees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.