GB: College Rovers wil nooit weer só iets beleef

College Rovers, die KwaZulu-Natalse kampioen, wil nooit weer ʼn teleurstelling beleef soos die nederlaag wat hy in verlede jaar se Goue Beker-kwarteindronde teen Rustenburg Impala, die uiteindelike kampioen, gely het nie.

Derek Heiberg, die klub se hoofafrigter, sê Rovers is baie optimisties oor sy kans in vanjaar se reeks.

“Ons het dwarsdeur die seisoen daaraan gewerk om nooit weer só teleurstellend te vertoon nie.

“Rovers se eerste en tweede span het in ʼn hoogs suksesvolle seisoen die eerste keer sedert 2013 sowel die bond se liga- as die uitkloptitel gewen, en ons hoop om daardie momentum na die GB-reeks oor te dra.”

Hy reken Rovers is in die strafste groep geloot, en dat elke kragmeting ʼn kwaai uitdaging inhou.

“Daar wag twee moeilike besoeke aan Windhoek en Sishen, met tuiswedstryde teen verlede jaar se naaswenner, Valsbaai, en die Bolandse kampioen, Roses United.

“Omdat daar geen maklike wedstryde in die groep is nie, sal dit Rovers ʼn gawe aanduiding gee van wat hy verder in die reeks kan verwag.”

Heiberg sê Rovers het nog ʼn stewige kerngroep van verlede jaar se spelers oor.

“Die kaptein, Chris Jordaan, is die mees ervare speler, maar twee derdes van die groep het verlede jaar GB-rugby gespeel, sodat ons in dié opsig kontinuïteit behou.

“Verskeie spelers het ook in vorige klubkampioenskappe gespeel, en ons het ʼn bietjie jong bloed bygevoeg, met ʼn paar spelers wat die eerste keer in die GB-reeks sal meeding.

“Ons glo Rovers het ʼn goeie mengsel van jeug en ervaring geskep.

“Die afgelope drie seisoene se staatmakers is steeds daar. Jordaan, Tythan Adams (verlede jaar se agterspeler van die reeks), Gavin Scott, Warren Randall, Jaret Crouch, Chris Kemp en Kelvin Adams was vir die duur van my driejaartermyn as afrigter deel van die leiersgroep, en dis ʼn vreugde dat almal fiks en slaggereed is.”

Heiberg sê die groep sluit ʼn klompie opwindende nuwe spelers in, en ʼn goeie aanduiding van die klub se puik vertoning vanjaar is dat drie spelers – Brandon Bailing, Thierry Kounga en Tythan Adams – hul Curriebekerbuiging vir die Sharks gemaak het, en die skrumskakel Grant Williams vir die bond se o.21-span speel.

Chris Jordaan – kaptein. (Foto: Twitter)

“Dit het die klub se diepte beproef, maar al die spelers wat hul skoene moes vol staan het goed gevaar en tot die klub se diepte toegevoeg.

“Die mededinging om plekke in die 22-tal vir wedstryde is fel en bemoeilik die keuse.

Hy sê Rovers het sedert verlede jaar ʼn goed ingeburgerde groep, en die nuwelinge het gou by die span se kultuur en etos ingeskakel.

“Ons sien daarna uit om te kyk hoe hulle op nasionale vlak vaar. Ons vertoning vanjaar was soms wisselvallig, maar ons het net een wedstryd verloor en ek wil vertrou dat ons op die regte tydstip bo sal uitkom.”

Heiberg is bekommerd oor die uitwerking wat die lang reise na Windhoek en Sishen op die span se vertoning kan hê.

Daar is ook ʼn klompie spelers wat kort voor die aankondiging van die groep beseer is, en daar word gespook om hulle gou weer slagvaardig te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.