GB (D): Polisiespanne, Sishen sal mekaar opkeil

Goue BekerMet drie Polisiespanne en Sishen in Groep D van die oop klubs se nasionale reeks om die Goue Beker, kan `n klompie klipharde stryde verwag word.

Die vyfde lid van die groep sal eers in Augustus bepaal word wanneer vanjaar se ligawenners wat nie reeds vir die reeks in aanmerking gekom het nie, sake om die oorblywende twee vakatures sal uitspook.

Die Polisiespanne is van Port Elizabeth – die verteenwoordiger van die Oostelike Provinsie; van Pretoria – die verteenwoordiger van die Blou Bulle; en Bloemfontein – die Vrystaatse verteenwoordiger. Sishen verteenwoordig Griekwas.

Pretoria Polisie was verlede jaar se Plaatkampioen en was sesde in 2013, `n aanduiding dat hy `n gerekende faktor in die reeks was wanneer hy deelgeneem het.

PE Polisie was verlede jaar 17de, en Bloemfontein Polisie was laaste toe hy in 2013 aan die eerste reeks om die destydse Gemeenskapsbeker deelgeneem het. In die laaste van die ou klublampioenskappe is hy egter as Plaatkampioen gekroon.

Dis die vierde jaar dat Sishen aan die reeks deelneem en sy beste plek was 11de in 2014.

Hoewel hy verlede jaar laaste in sy groep was, vertel die punteleer nie die volle verhaal nie. Die span uit die Kalahari het met slegs ses punte teen Wanderers, een van die uiteindelike kwartfinaliste, verloor (21-27), met vyf teen Worcester Villagers (13-18), met `n enkele punt teen Hamiltons (24-25), en hy het 30-30 gelykop teen Evergreens gespeel.

Kan `n mens ongelukkiger kry?

pe polisiePort Elizabeth het baie meer vertroue

♦ Zayne Bosch, die hoofafriger van PE Polisie, het aan Pale Toe! gesê hulle sien baie uit na die reeks aangesien al drie polisiespanne in dieselfde groep geloot is.

“Ons verwag dat Pretoria Polisie `n baie sterk span sal hê, maar ons gaan vanjaar met baie meer vertroue deelneem.”

Danie Gouws, die voorsitter, sê daar is baie te leer by die ander spanne en sy klub sien uit daarna.

Die klub spog met spelers soos die ervare gewese Blitsbokke Wayne van Heerden en Fabien Juries. Albei het ook Superrugby gespeel – Van Heerden vir die Sharks en die Cheetahs, en Juries vir die Bulls en die Cheetahs.

pretoriapolisieGroot uitdaging vir Pretoria

♦ Johan Kluyts, `n woordvoerder van Pretoria Polisie, sê hulle benadering is heel eenvoudig: “Speel wedstryd vir wedstryd; geniet die TV-blootstelling; en beskou die reeks as `n groot uitdaging.

Hy sê spelers sal altyd hoop hulle word raakgesien en die reeks bied hul die geleentheid om hul talente uit te stal.

“Dis goed om te sien daar is drie Polisiespanne betrokke, want sulke wedstryde is nog al die jare uiters mededingend. Pretoria Polisie was mos nooit gewild onder die ander Polisiespanne nie – seker maar omdat al die rugbyspelers altyd in Pretoria agtergehou is, waarskykynlik al van die 1940s af tot in die 1990s!”

Kluyts se hulle is nog nie seker waar hulle wedstryde plaasvind nie, maar hy dink PE kan `n moeilike span wees.

“Ek het hulle in die jare negentig afgerig en is bly om te sien dat hulle steeds `n krag is.”

Hy verwelkom die nuwe reëls en dat die reeks nou aan die einde van die jaar plaasvind.

“Ek glo die amateurs sal dan fikser en goed voorbereid wees,” het hy aan Pale Toe! gesê.

bloemfontein PolisieBloemfontein sterkste sedert 2012

♦ Thaart Slater, die voorsitter van Bloemfontein Polisie, sê hulle is baie opgewonde oor die loting en sien uit na die derbys teen die ander Bobbies-spanne.

“Ons is regtig vanjaar positief ingestel,” het hy Pale Toe! meegedeel. “Dit sal ons sterkste span sedert 2012 wees toe ons die ou klubkampioenskap se Plaatafdeling gewen het.

“Bloemfontein Polisie het gewis baie diepte. Die gees in die kamp is baie goed.

“Die span het al twee oefenwedstryde agter die rug en dit het baie goed gegaan.

“Voorlopig wil ons bloot fokus op die Presidentsliga wat nou begin. Ons wil nie dinge te ver vooruithardloop nie en benader dit wedstyd vir wedstyd,” sê Slater.

Afleggings knou Sishen

♦ Louw van den Heever, `n woordvoerder van Sishen, het aan Pale Toe! gesê dis interessant dat hulle saam met al die Bobbie geloot is.

“Dit gaan `n taai groep wees, want hulle is altyd fisieke spanne.”

Hy sê die klub se doel is nou eers om weer goed in Griekwas se Superliga te vaar en dit dalk weer te wen.

“Dit sal ook goeie voorbereiding vir die Goue Beker bied. Dit sal baie help om jong spelers blootstelling te gee en vir die Goue Beker te brei aangesien Sishen `n paar senior spelers verloor het wat uitgetree het.”

Hy sê die mikpunt vir die Goue Beker sal wees om alle tuiswedstryde met bonuspunte te wen, en ook met wegwedstryde `n bonuspunt of twee te verwerf. Sodoende kan hulle dalk vir die kwarteindronde kwalifiseer.

Van den Heever sê die ekonomiese toestand, met al die afleggings in dié geweste, bemoeilik sake erg vir die klub. Dit lyk of hulle 12 van verlede jaar se spelers hierdeur kan verloor.

Sishen sal eweneens met `n hele nuwe afrigters- en bestuurspan begin, want die ingesetenes se poste is insgelyks in die gedrang.

“Maar nou ja, ons sal maar daarmee moet saam lewe. Die manne bly positief.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.