GB: dis groentjie teen hardebaard in eindstryd

rustenburg impala`n Groentjie in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker betwis Saterdag die eindstryd in die reeks teen die hardste van die hardebaarde.

Valsbaai (Westelike Provinsie), wat die eerste keer aan die reeks deelneem, het die verdedigende kampioen, Durbanville-Bellville (ook WP), 41-35 in die halfeindstryd in Durbanville geklop. Hy was rustyd reeds 24-6 voor.

In die ander halfeindstryd het Rustenburg Impala (Luiperds) vir Brakpan (Valke) 44-32 geklop – vir `n derde opeenvolgende eindstryd – ná `n rustydvoorsprong van 20-6.

Impala is die span wat sedert die instelling van die reeks in 2013 loshande die konstantste vertoon het, ondanks die feit dat hy die Luiperds se klubrugby dermate moet oorheers dat hy oor grense heen na waardige teenstand moet soek.

Die Rustenburgers het in 2013 die halfeindstryd met `n enkele punt (20-21) teen Despatch, die uiteindelike kampioen, verloor; in 2014 is hy as die kampioen gekroon toe hy Roodepoort 13-11 in die eindstryd geklop het; en verlede jaar was hy die naaswenner toe hy 30-31 teen Durbell in die eindstryd verloor het.

Valsbaai-logo♦ Brakpan het Saterdag `n magtige terugvegpoging in die tweede helfte aangewend (hy was op daardie tydstip reeds 6-34 agter), en 26 punte in 22 minute aangeteken, maar dit dit was te laat.

Cecil Dumond (losskakel) het 22 van die wenspan se punte met `n drie, vier doelskoppe en drie strafdoele behaal; en sy Brakpanse eweknie, Gido Horn, 17 met `n drie, drie doelskoppe en twee strafdoele.

♦ Nes die wedstryd in Rustenburg is die Kaapse kragmeting in die eerste helfte beklink. Nadat die Baai die voorsprong in die sesde minuut geneem het, moes Durbell al die pad inhaalrugby speel.

In `n amperse herhaling van die kragmeting teen Pretoria Polisie het die Valsbaaise plaasvervangers Dylon Frylinck en Dasch Barber vir impakdrieë laat in die wedstryd gesorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Gaan baie interressante eindstryd wees tussen twee goeie spanne.

Impala se Leon du Plessies (8) en Bruce Muller(2) was indrukwekkend en Xolani Nkosi (15) het deurgaans werk gesoek.
Ek is nie ‘n voorstaander van skop rugby nie maar ek dink Valsbaai het amper die wedstryd teen Durbel weggegooi omdat hulle in die tweede helfte te min met die wind van agter geskop het. Hulle het hulself onder te veel druk in hul eie gebied geplaas.

Nico K ·

Daar is al gesê dat ‘n span nie op ‘n vooraf bepaalde plan moet bly nie. Die omstandighede en teenstanders kan ‘n verandering in spelpatroon noodsaak. As jy ‘n sterk wind van agter het, dan skop jy!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.