Saterdag se voorlaaste wedstryde in die groepfase van die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker is vir baie spanne `n kwessie van swem of verdrink, en veral tuis kwarteindstryde is hoog op die wenslys.
In Groep A speel College Rovers (KwaZuluNatal) tuis teen Old Selbornians (Grens), en Villagers Worcester (Boland) tuis teen Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie), die verdedigende kampioen.
Rovers en Durbell behoort te wen, maar hoe ver hulle wen, kan op die ou end bepalend wees watter een van die twee die kwarteindstryd tuis sal aanbied.
Albei het tien ligapunte, maar die Durbaniete is tans 35 punte beter af wat die batige punteverskil betref, en die Durbies sal moet vinger trek as hulle van uitspeelwedstryde tuis droom. Die kampioen se ander oorblywende wedstryd is juis teen Rovers, en Saterdag lyk na al kans om die verskil te probeer uitwis.
Dit gaan nie maklik wees nie op Worcester, met die tuisspan wat nog nie vanjaar in die reeks gewen het nie en diep in die skuld by sy ondersteuners is.
Groep B
In Groep B speel Northam (Limpopo Blou Bulle) tuis teen Evergreens van Pacaltsdorp (Suidwestelike Distrikte), en Rustenburg Impala (Luiperds) speel tuis teen Wanderers van Windhoek (Namibië).
Die groep is baie mededingend en veral die wedstryd tussen Impala en Wanderers kry nuwe betekenis ná Pirates (Goue Leeus) se onverwagte teenspoed teen Evergreens. Dit versterk die Windhoekers se kans om die kwarteindronde te haal, en Impala sal daarmee rekening moet hou.
Evergreens behoort sy aanspraak te versterk, tensy Northam vandeesweek daarin kon slaag om sy vorige foute uit te stryk en vir `n verrassing sorg.
Groep C
Nog `n baie mededingende stryd heers in Goep C. Brakpan (Valke) reis Witrivier toe om teen die tuisspan (Pumas) te speel, en Old Georgians (Zimbabwe) speel in Harare teen Durban Collegians (KZN).
Die kollig is veral op die kragmeting in Harare waar albei spanne nog in die wedloop is en die een wat verloor se kans om na die uitspeelrondes deur te dring `n ernstige knou sal kry.
Brakpan behoort Witrivier te klop om die voortou in die groep by Valsbaai oor te neem.
Groep D
Die Polisiespanne van Oos-Londen en Bloemfontein speel op eersgenoemde se tuisveld in die volgende kragmeting in die “botsing van die Bobbies”, en Sishen speel tuis op Kathu teen Port Elizabeth Polisie.
Met die groepvoorloper, Pretoria Polisie, ná drie oorwinnings veilig boaan die punteleer, word die wedloop om die tweede plek tussen Sishen en PE uitgespook.
Sishen het ná `n groot nederlaag teen Pretoria Polisie `n goeie oorwinning oor Oos-Londen Polisie behaal onder die hand van Riaan van Straten, `n gewese binnesenter en losskakel van Griekwas, die Pumas en die Suidwestelike Distrikte, en die Kalaharispan se derde afrigter vanjaar. Hy sal Saterdag op sy tuisveld teen die Baaise Polisie moet toon dat die ommekeer wesenlik is.
Die wedstryd in Oos-Londen sal grootliks bepaal wie laaste in die groep eindig.