GB: dit sal bars gaan om Durbell te onttroon

durbell-logo.squareWie ookal in gedagte het om Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie) as Goue Beker-kampioen te onttroon, kan maar weet dit sal nie maklik gaan nie.

Dit blyk onteenseglik uit die span se wegholoorwinning van 74-23 Saterdag oor Villagers Worcester (Boland) in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker.

Die voorloper in Groep A, College Rovers (KwaZulu-Natal), se voorsprong was geskoei op `n beter batige punte saldo van 35. Om sy kan om die kwarteindstryd tuis aan te bied lewend te hou, moes die Durbies dus vir Villa baie-baie ver klop. Die uitdaging is aanvaar, en met Durbell en Rovers steeds albei onoorwonne en met 15 ligapunte elk, is die Kaapse span nou die voorloper.

Bobby Joubert, Durbell se hoofafrigter, het aan Pale Toe! gesê die span se vaste fasette was deurslaggewend in sy sege.

“Durbell het baie mooi gestruktureerd gebly om sy geleenthede in punte te omskep.

“Die uitblinkers was albei slotte, Daneel Botes en Michael Badenhorst. Die loskopstut, Ashley Kohler, was self briljant,” het Joubert gesê.

“Die span het drie oorstootdrieë van skrums af gedruk, waarvan een `n strafdrie was. Daar is ook drie drieë van dryfmaalbewegings af gedruk.”

Andrew Picoto, Angus Cleophas, Arend Brink, Brenden Esterhuizen, Conway Pretorius, Botes, Etienne Swarts, Gideon Thiart, Jacques Vermaak en Badenhorst (twee) het die wenspan se drië gedruk. Cleophas het vier en Tiaan Radyn drie daarvan verdoel.

♦ Saterdag se hoë hekkie was nie die eerste wat die verdedigende kampioen sedert die vorige toernooi moes oorkom nie.

Hy moes die span wat verlede jaar die titel gewen het grootliks herbou as gevolg van die tol wat uittredes, beserings en afrokkelings geëis het.

Jan Loubser, wat die vorige seisoen as die afrigter van die toernooi bekroon is, het intussen uitgetree, maar Joubert het met groot sukses by hom oorgeneem.

Die nuwe afrigter was `n veelsydige agterspeler wat op sy dag vir Griekwas en die Suidwestelike Distrikte (hy het laasgenoemde aangevoer) gespeel het, nadat hy een van die uitblinkers vir die destydse SA o.19-span in 2001 se Junior Wêreldbeker-toernooi in Chili was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.