Vernietigende skrumwerk deur Durbanville-Belville (Westelike Provinsie), die verdedigende Goue Beker-kampioen, het hom Saterdag van `n goeie oorwinning oor Old Selbornians (Grens) verseker.
Hy het op sy tuisveld in Durbanville 40-14 afgereken met die enigste span wat hom in verlede jaar se reeks kon klop.
Darron Nagel, Durbell se ondervoorsitter, sê die manjefieke skrumwerk van die voorry Ashley Kohler, Jacques Vermaak en die kaptein, Ashton Constant, het nie net hul span die oorhand besorg nie, maar hulle het as eenheid die speler van die wedstryd-toekenning ontvang.
Nagel sê die eerste 20 minute het voel-voel verloop, met die twee spanne wat mekaar se strekpunte en swakhede getoets het.
“Durbies het die eerste bloed geruik met twee strafdoele deur die losskakel, Tiaan Radyn (6-0), maar ná volgehoue druk het Old Boys `n bres in die tuisspan se verdediging geslaan om `n doel te behaal (6-7).
“Roderick Moses (regtervleuel) het sy vaart benut om onder die pale te druk en Radyn het die drie verdoel om Durbell 13-7 te laat voorloop.
“Nog `n Old Selbornians-drie en `n strafdoel deur Radyn het die Durbies `n beskeie rustydvoorsprong van 16-14 besorg.”
Nagel sê die tweede helfte het die gehalte rugby opgelewer waarop Durbell hom beroem en hy het 26 punte sonder teenspraak opgestapel.
“Denzel Willemse (skrumskakel) het kort ná die blaaskans gaan druk, gevolg deur die kaptein Constant en die plaasvervanger-flank Brendon Esterhuizen.
“Die beste drie van die wedstryd het gevolg toe die linkervleuel, Cheslyn Roberts, Old Boys se afskop uit die lug gevat en op sy eentjie vir `n briljante wêreldklasdrie deurgenael het.”
Nagel sê gegewe die belangrikheid van die wedstryd en die fisieke aard daarvan is dit nie vreemd dat die gemoedere dikwels hoog geloop het nie, en die kragmeting het drie geel en `n rooi kaart opgelewer.
“Die Durbies se hoofafrigter, Bobby Joubert, behoort in sy skik met die bonuspuntsege te wees, en sal nou sy span se visier op Saterdag se wedstryd teen die stert-in-die-lug Rovers in Welkom stel,” het hy aan Pale Toe! gesê.
Rovers het Saterdag verras met `n oortuigende oorwinning van 39-29 oor Villagers Worcester voor die Bolanders se makroskare op Bolandpark in Worcester.