GB: Evergreens en Valsbaai in kwartfinaal

goue bekerEvergreens van Pacaltsdorp (Suidwestelike Distrikte) en Valsbaai (Westelike Provinsie) het die oorblywende twee plekke in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker opgeraap.

Ondanks `n klompie kommerwekkende wegholoorwinnings in die laaste ronde van die groepfase, is dit duidelik dat die uitspeelronde, nes verlede jaar, uiters strawwe mededinging kan oplewer.

Evergreens het Windhoek Wanderers (Namibië) Saterdag 35-27 op laasgenoemde se tuisveld geklop; en `n vernietigende Valsbaai het Witrivier (Pumas) 94-7 oorrompel.

Evergreens moet nou Durbanville toe reis om die verdedigende kampioen, Durbanville-Bellville (WP), op dié se werf te gaan aandurf. Valsbaai pak op sy beurt die lang pad Pretoria toe aan om teen Pretoria Polisie (Blou Bulle) kragte te meet.

Die ander twee kwarteindstryde is op Brakpan, waar die tuisspan (Valke) teen Port Elizabeth Polisie (Oostelike Provinsie) speel, en Rustenburg waar Rustenburg Impala (Luiperds) teen College Rovers (KwaZulu-Natal) speel.

Ander uitslae –

Pretoria Polisie 75, Oos-Londen Polisie 5; Sishen 62, Bloemfontein Polisie 17; Brakpan 29, Old Georgians 16; Old Selbornians 15, Welkom Rovers 8; Durbell 25, College Rovers 22; Rustenburg Impala 57, Pirates 31.

Opgesomde telkaart –

Groep A

Durbell 19, College Rovers 16, Old Selbornians 10, Welkom Rovers 6, Worcester Villagers 1.

Groep B

Impala 20, Evergreens 15, Pirates 11, Wanderers Windhoek 9, Northam 3.

Groep C

Brakpan 19, Valsbaai 16, Old Georgians 8, Durban Collegians 7, Witrivier 1.

Groep D

Pretoria Polisie 20, PE Polisie 13, Sishen 11, OL Polisie 6, Bloemfontein Polisie 2.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.