GB: gedugte taak wag op Old Selbornians

Old Selbornians logo`n Gedugte taak wag op Old Selbornians (Grens) wanneer hy Saterdag die heersende kampioen op die eerste dag van vanjaar se wedstryde in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker in `n wegwedstryd pak.

Old Boys was egter verlede jaar die enigste klub wat Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie) in die reeks geklop het, en het dit op Durbell se eie werf reggekry.

“Hoe groter die uitdaging, hoe groter die honger,” het Old Selbornians se hoofafrigter, Dave McCallum, aan Pale Toe! gesê. “Ons spelers kan nie wag om teen die beste mee te ding nie.”

Hy glo die Oos-Londense span kan die groepfase oorleef.

“Old Boys het `n paar klubkampioenskappe en Gemeenskapsbekers met `n vierde, agste en negende plek agter die blad, en sal gewis hierop wil verbeter.”

McCallum sê die meerderheid van die klub se spelers is fiks en gesond.

“Daar sal altyd skrape en kneuspleke ná `n lang seisoen wees, maar almal is fiks en gretig om aan die gang te kom.”

Hy beskou die geestelike uitdaging as die klub se grootse.

“Fisiek het ons hard geswoeg, takties is ons bewus van ons pluspunte en van Durbell se sterk- en swakplekke. Ons het ons huiswerk gedoen.

“Nou moet ons geestelik voorberei om seker te maak ons is gereed vir die wedstryd.”

McCallum sê dit tel in Old Boys se guns dat hy verlede jaar die uiteindelike kampioen geklop het en vanjaar weer in die eerste wedstryd teen hom te staan kom.

“So moeilik as wat dit sal wees, glo Old Boys hy kan dit weer regkry. Per slot van sake is al die druk op Durbell omdat hy as die gunsteling sal opdraf.”

Hy sê dis `n groot eer vir die klub om as die hoogtepunt van die seisoen deel te neem aan `n toernooi waarop jaarliks verbeter word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.