GB: Georgians regverdig insluiting deur en deur

Moses Gunda druk `n drie vir Old Georgians teen Durban Collegians, met sy kaptein Kingsley Lang byderhand. (Foto: Old Georgians)

Moses Gunda druk `n drie vir Old Georgians teen Durban Collegians, met sy kaptein Kingsley Lang byderhand. (Foto: Old Georgians)

Die twee buitelandse klubs in die reeks om die Goue Beker, maar veral Old Georgians van Harare (Zimbabwe), het dusver hul insluiting in die reeks deur en deur geregverdig.

OG het Saterdag sy tweede wedstryd in die reeks gewen deur Durban Collegians (KwaZulu-Natal), een van die sterker klubspanne in Suid-Afrika, 38-22 met die kous oor die kop huis toe te stuur.

Die span van Harare, wat nie juis veel teenstand in sy sukkelende plaaslike liga ervaar nie, het die geleentheid om in `n mededingender reeks te speel met albei hande aangegryp en bo sy omstandighede uitgestyg.

Oor Saterdag se sege van 38-22 oor Collegians het Grant Mitchell, Old Georgians se hoofafrigter, aan Pale Toe! gesê die span het hard daaraan gewerk om sowel die presiesheid as die felheid van sy aanval op te skerp. Daar is ook seker gemaak dat die besluitneming reg is vir elke stukkie van die speelgebied.

“`n Oorwinning was noodsaaklik om ons hoop op `n plek in die kwarteindstryd lewend te hou.”

Die agsteman en kaptein, Kingsley Lang, `n Zimbabwese toetsspeler, is as die speler van die wedstryd aangewys.

“Sy leierskap was uitmuntend, en is slegs deur sy vertoning op die veld in die skadu gestel,” sê Mitchell.

“Hy het in die kontaksituasies oorheers, met reëlmaat deur die verdedigingslinie gebreek en `n welverdiende drie gedruk.

“OG se losskakel Lenience Tambwera het eweneens indrukwekkend vertoon. Hy het die gang van die wedstryd baie goed beheer, en die telbord met sy akkurate skopwerk pale toe aan die rol gehou.

“Ook hy het `n drie ná `n stukkie briljante individualisme gedruk.”

Mitchell sê die span se “slagter” Boyd Rouse (senter) het weereens reusewerk op die verdediging gedoen.

“Hy gee die fisieke toon van die span met groot geesdrif aan.”

Moses Gunda (slot), Lang en Tambwera het OG se drieë gedruk. Tambwera het die ander punte met skoppe bygedra.

♦ Die SA Rugbyunie (Saru) kan homself op die skouer klop met die besluit om OG en Wanderers van Windhoek te betrek. Al twee dra vanjaar tot die mededingendheid van die Goue Bekerreeks by, en die internasionale geur bied `n belangrike spesery om die gesogte reeks verder op te kikker.

Klubtoere na Namibië en Zimbabwe was vroeër jare `n integrale deel van die SA klubtoneel, maar dit het in die beroepsera grootliks verdwyn. Nou kry klubspelers weer die geleentheid, al is dit op beperkte skaal, om rugby buite die landsgrens te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.