GB: goeie diepte laat Vaal Reefs moed skep

Vaal Reefs, die Luiperds se verteenwoordiger in die SA Rugbyunie (Saru) se internasionale klubreeks om die Goue Beker, geniet vanjaar goeie diepte al het hy net twee spanne in die Griffons-Luiperds-oorgrensliga.

Philip van Rensburg, die klub se hoofafrigter, sê die meeste spelers is gereed vir die span se eerste wedstryd Saterdag tuis teen Northam (Limpopo Blou Bulle), maar die kaptein, JP Taute, het las van ʼn enkelbesering en kry ʼn ruskans. Dit geld ook vir nog ʼn speler of twee.

Hy beskou die groep waarin Vaal Reefs speel as een van die sterkste, met Quins-Bobbies-rugby wat die Blou Bulle se kampioen is en Raiders die sterkste oop klub van die Goue Leeus.

“Old Georgians van Zimbabwe het verlede jaar baie goed gevaar deur Durban Collegians met 38-22 te klop.

“Dit gaan baie taai wees.”

Van Rensburg, wat in 1999 en 2000 Vaal Reefs in die destydse nasionale klubkampioenskap verteenwoordig het, sê die span besef dat daar geen maklike wedstryd sal wees nie want al die klubs in die land wil graag in die reeks uitblink.

Vaal Reefs is in 1999 deur die Shimlas (die universiteite was toe nog deel van die reeks) in die halfeindronde uitgeskakel.

Van Rensburg het aan Pale Toe! gesê die span sien uit na ʼn strawwe reeks en is op tuisbodem nie ʼn maklike klub om te klop nie.

“Wie weet dalk kom daar ʼn verassing of twee van die Reefsers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.