GB: groentjie Northham gaan nie terugstaan

Northam-logoDit mag Northam (Limpopo Blou Bulle) se eerste deelname aan die internasionale oopklubreeks om die Goue Beker wees, maar hy gaan vir niemand terugstaan nie.

Flip de Kock, die administrateur van Northam, het aan Pale Toe! gesê die Rhinos gaan gewis hard werk en wil wys dat `n reserweligaklub nie onderskat moet word nie.

“Die spelers is baie opgewonde om hul talente teen van die beste te toets. Ook die res van die klub sien baie daarna uit, en `n mens kan die opgewondenheid sommer aanvoel.

“Northam het `n baie strawwe loting vir `n nuwelingklub wat opgang uit die geledere van `n B-liga maak.

“Dit gesê, is Northam se eerste doelwit om mededingend in die reeks te wees en sodoende Limpopo in die rangorde op te skuif. Ons sal gewis probeer om meer as een groepwedstryd te wen.”

Die Rhinos skop die reeks af teen Rustenburg Impala (Luiperds), die 2014-kampioen en verlede jaar se naaswenner. Die ander spanne in die groep is Pirates (Goue Leeus), Evergreens van Pacaltsdorp (Suidwestelike Distrikte) en Wanderers van Windhoek (Namibië).

De Kock sê Northam beskou die reeks ook as `n leerskool, maar wil die geleentheid eweneens probeer geniet.

“Die voorbereiding lyk goed, behalwe dat ons min wedstryde kry om te speel, iets wat ons in die liga ook benadeel het. `n Mens kan nie vier weke lank nie speel nie, en dan verwag die spelers moet wedstrydskerp wees. Ek glo baie klubs sit met dieselfde probleem aangesien al die ligas afgehandel is en niemand `n span vir `n vriendskaplike wedstryd wil bymekaar kry nie.

“Naas `n beperkte diepte vergeleke by die A-liga-klubs, is dít Northam se grootste struikelblok.”

Hy sê met `n drietal uitsonderings is die span op volle sterkte vir die reeks.

Northam se staatmaker-loskopstut, Flip Smit, se loopbaan is deur `n rugbesering kortgeknip. Die senter Gerhard Potgieter loop die reeks vanweë `n kniebesering mis, en Justin Botha (losskakel) sukkel met `n liesbesering wat nie betyds sal herstel nie.

“Die span se kanniedood-benadering tel in sy guns. Hy veg tot die einde en speel werklik tot die eindfluitjie blaas.

“Die Rhinos het as groep `n hegte band en speel regtig vir mekaar.

“Die span bevat gewis`n paar sterre in sy geledere en as hulle mekaar die slag vind, kan die Rhinos `n gevaarlike span wees.

De Kock loof die reeksdirekteur, Duane Heath van die SA Rugbyunie, vir die seepgladde reëlings en tydige en doeltreffende kommunikasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.