GB: haglike toestande stuit College Rovers nie

college roversHaglike speeltoestande Saterdag in Durban kon nie verhoed nie dat College Rovers (Sharks) deurdring tot die laaste uitspeelronde om vir die internasionale Goue Bekerreeks in aanmerking te kom.

Hy het Raiders (Goue Leeus) 32-16 geklop.

Derek Heiberg, die klub se hoofafrigter, is in sy noppies met sy span se vertoning in die nat omstandighede, en gesien dat die span drie weke lank nie gespeel het nie.

“Ek dink ons voorspelers het beter by die toestande aangepas en die oorhand oor Raiders in die vaste fasette gekry. Dit het ons die gebiedsvoordeel gebied om hulle onder druk te plaas.

“Ons het in die week deurentyd ernstige aandag aan verdediging gegee, en met uitsondering van `n glips hier en daar was ons in dié opsig uitmuntend.”

Heiberg sê die slot Paul Paul Bester het puik in die lynstaanstryd gevaar, en Sanele Sibanda en die haker, Chris Kemp, het merkbaar beter as die vorige paar weke gespeel. Brandon Bailing was die uitblinker in toestande wat geen agterlyn kan pas nie.

Kemp (twee), Chris Jordaan, Tython Adams, Matt Phillips en Gavin Scott het Rovers se drieë gedruk. Scott het een verdoel.

Heiberg se Rovers is lugtig vir Saterdag se kragmeting teen Centurion en beskou dit as `n enorme uitdaging.

“Centurion het die tuisvoordeel met albei uitspeelwedstryde geniet, en ons besef ons sal op ons beste moet vertoon.

“Ons het `n goeie oefenweek agter die rug, en die manne sien uit na `n grootse 80 minute.”

Centurion (Blou Bulle) het sy wedstryd teen Wesbank van Malmesbury (Boland) 24-25 gewen.

Vaal-Reefs-logo♦ Cliff Holme, die voorsitter van Vaal Reefs (Luiperds), sê sy span het die basise dinge reg gedoen in sy oorwinning van 18-17 oor Potgietersrus (Limpopo Blou Bulle).

Die regtervleuel Stoan Dlova en die flanke Mervin Mynhardt en Zoom Mooi het veral uitgeblink.

Dlova en Danie van Wielligh het Vaal Reefs se drieë gedruk, Morné Kemp het een verdoel, Liaan Nolte het met twee strafdoele geslaag.

Holme sê Vaal Reefs weet min van sy teenstander Saterdag, Oos-Londen Polisie, af en sal bloot konsentreer op die dinge wat hul kan beheer.

Polise (Grens) het verlede week verras deur die Oostelike Provinsie se kampioen, Gardens, 24-17 in sy eie agterplaas te klop.

♦ Die twee spanne wat Saterdag wen, vul die twee plekke wat nog in die reeks beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.