GB: hoë Polisie-lof vir Valsbaai ná Loftus-sege

pretoria polisie`n Mens kan jou hoed afhaal vir die Valsbaai-span, het Johann Kluyts, woordvoerder van Pretoria Polisie ná die Kaapse span se merkwaardige oorwinning oor die Bobbies Saterdag op Loftus Versfeld aan Pale Toe! gesê.

Die Baai het sy kwarteindstryd teen die Pretorianers verrassend ver 40-12 gewen.

“Valsbaai se mense was werklik nederig ná hul groot oorwinning en het selfs gevra of hulle `n bier in die Bobbie-kleedkamer mag gaan drink.

“Dis mos die gees van klubrugby waaraan ons gewoond is.

“Uit hul gesels in die kleedkamer het ek agtergekom dat hulle tot Polisie se geskiedenis nagevors het, en dat hulle die Loftus-ervaring as `n groot eer beskou het.”

Kluyts sê Valsbaai het goed voorbereid opgedaag en sy wedstrydplan puik uitgevoer.

“Hierdie ouens was vir my `n vars bries in die reeks. Hul gees het my dermate beïndruk dat ek amper wil sê ek hoop hulle gaan die hele pad.”

Kluyts sê vir Polisie was die reeks weereens `n lekker ondervinding en `n goeie leerskool.

“Die klub het vanjaar deurgaans wipplank gery, maar is aan die oorbeweeg na `n nuwe era met `n jong bestuur, `n nuwe afrigter en `n klompie jong spelers wat gewis in die toekoms van hulle gaan laat hoor.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.