GB-houer teleurgestel, dog geen kwade gevoelens

Die man agter die suksesvolle Goue Bekerreeks: Duane Heath, die projekdirekteur. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Die Goue Beker-houer, Valsbaai, is teleurgestel dat hy nie aanstaande jaar sy titel kan verdedig nie, maar koester geen kwade gevoelens in dié opsig nie.

Die getal spanne in die SA Rugbyunie (Saru) se kampioenskap vir die oop klubs is van 20 tot 16 verminder. Die heersende kampioen (kragtens ʼn besluit van 2016), die Namibiese en Zimbabwiese besoekers en ʼn tweede promotorskeuse bly in die slag.

Saru het Woensdag besonderhede oor aanstaande jaar se reeks om die Goue Beker (GB) bekend gemaak.

Vir East Rand United (promotorskeuse), Gardens, Uitenhage (Oostelike Provinsie) en Naka Bulle (Blou Bulle) is dit ʼn eerste toernooi sedert die nuwe formaat in 2013 in werking getree het, met College Rovers (KwaZulu-Natal), Rustenburg Impala (Luiperds) en Sishen (Griekwas) wat nog nie ʼn toernooi in dié bedeling misgeloop het nie.

Bloemfontein Polisie (Vrystaat), Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie) en Worcester Villagers (Boland) neem die vierde keer aan die toernooi deel; Northam Platinum Rhinos (Limpopo Blou Bulle), Roodepoort (Goue Leeus) en Welkom (Griffons) is ʼn derde keer betrokke; en Progress George (SWD), Sasol Secunda (Pumas), Springs (Valke) en Swallows (Grens) kry ʼn tweede keer kans.

Impala (twee keer) en Durbell het die toernooi vantevore gewen.

Die reeks skop op 9 Maart aanstaande jaar af en die eindstryd is vir 14 April bepaal. Saru sê dit val in by die gedagte om enige moontlike oorvleueling met die bonde se klubligas uit te skakel.

Die 16 spanne sal in vier groepe van vier elk verdeel word, sodat elke span drie groepwedstryde sal speel.

♦ Jon Harris, die woordvoerder van Valsbaai, sê die span is uit die aard van die saak teleurgesteld dat hy nie die paal gehaal het nie nadat hy tweede ná die Maties op die WP se Superliga A-punteleer was. Durbell het hom met ʼn goeie vertoning in die halfeindstryd uitgeskakel.

Hy sê dis veral teleurstellend dat Valsbaai nie genooi is om sy kroon te verdedig nie, iets wat die rigsnoer in dié soort reekse is.

Valsbaai vind dit ook jammer dat ʼn belowende model om die spel te bevorder, ingeperk is deurdat die ander Afrika-spanne in die slag gebly het. Hy sal graag wil toesien dat die Goue Beker-reeks uitgebou eerder as ingekort word.

“Ons sal ons vertroue in die reeks en die waarde van klubs met natuurlike steunbasisse uitleef, en streef steeds daarna om weer aan die GB-reeks deel te neem.”

Harris loof Duane Heath, die GB-projekdirekteur, vir sy bestendige werk om die reeks in uitdagende omstandighede lewend te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.