GB: kampioen maak hom geen illusies oor wat wag

durbell-logo.squareDie houer van die Goue Beker, Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie), maak hom geen illusies oor wat vanjaar in die oop klubs se nuwe internasionale reeks op hom wag nie.

Die kub se ondervoorsitter, Darron Nagel, het aan Pale Toe! gesê Durbell het die hele seisoen vir die reeks voorberei, is deeglik geslyp en vol vertroue, maar ook deeglik bewus van die strawwe mededinging wat in die reeks op hom wag.

“Dis belangrik om in gedagte te hou dat elk van die spanne teen wie ons te staan kom in eie reg sy bond se kampioen is.”

Durbell se sege in verlede jaar se reeks is as `n sprokie bestempel nadat hy die heel laaste was om in die heruitdun vir die reeks in aanmerking te kom, en toe die beker voor die gunstelinge se neuse weggeraap het.

Die reeks het sedertdien `n internasionale kleur gekry met die insluiting van Namibië en Zimbabwe se klubkampioene.

Nagel sê die Durbies moes die tipiese uitdagings van `n taai seisoen in die WP se topliga te bowe kom, maar die hoofafrigter Bobby Joubert, `n gewese Griekwa- en SWD-agterspeler, en sy span, Reggie Nutt (hulpafrigter), Jason Hector (fiksheidsafrigter) en Peter Virgin (spanbestuurder) het hulle knap van hul taak gekwyt in hul eerste seisoen aan die stuur van so `n jong span.

Ashton Constant, `n Opkomende Springbok en gewese SA o.19-speler, het as `n puik kaptein na vore getree.

Bobby Joubert

Bobby Joubert

“Die span se gemiddelde ouderdom het van 28 verlede jaar tot 23 vanjaar geval, `n uiters belowende teken dat die klub vorentoe van krag tot krag sal gaan, en in plaaslike en nasionale klubrugby met hom rekening gehou sal moet word.

“Die afrigters het skitterend daarin geslaag om die spelers se werklas in die seisoen so te bestuur dat die spelers perdfris en slaggereed vir die komende reeks is.”

Hy sê Durbell is gelukkig in die opsig dat hy `n puik mediese span het. Dit bestaan uit Renier Marais as spandokter (`n oudspeler en lid van verlede jaar se wenspan), Esmari Hofmeyer (hooffisioterapeut) en Shereen Louw (fisioterapeut).

“Hulle het uitmuntend daarin geslaag om die spelers op die veld te hou en beserings doeltreffend te bestuur.

“Uiteraard was daar beserings aan sleutelspelers en hul behandeling is versnel om hulle vir die reeks gereed te kry.”

Nagel sê daar is `n paar uitdagings wat die span die hoof sal moet bied.

“Lang reise gaan altyd `n rol speel omdat talle spanlede steeds in ander beroepe staan en Maandae ná wegwedtryde op hul poste moet wees – soos wanneer ons op 17 November teen Welkom speel.

Durbell-spelers saam met `n paar Springbokke by die klub. (Foto: WP Rugby)

Durbell-spelers saam met `n paar Springbokke by die klub. (Foto: WP Rugby)

“Dis ook moeilik om die verdedigende kampioen te wees omdat elk van die ander spanne jou teiken en wil klop om hul aanspraak op die titel te versterk.

“Ons weet, ons het dit self in die verlede gedoen, en moet dus daarop voorbereid wees,” sê hy.

“Die gehalte teenstand wat ons sal ervaar, is `n baie groot uitdaging. Dis topspanne wat op die groot verhoog speel. Durbell sal geen teenstander vrees nie, maar sal elkeen respekteer. Die span sal ten beste voorberei ongeag teen wie hy speel.”

Nagel sê die sterk steun wat die gemeenskap van Kaapstad se noordelike voorstede die span bied, strek tot sy voordeel en hy vertrou hulle sal die span tydens die reeks steeds onderskraag.

“Dis `n jong, maar volwasse span wat hulle nie deur vrees van stryk laat bring nie.

“Die span is uiters gemotiveerd en vaardig, en as verdedigende kampioen weet hy wat om te verwag en wanneer om diep te delf om die wa deur die drif te trek.”

Nagel sê dis `n groot eer vir Durbell om aan so `n hoogaangeskrewe toernooi deel te neem, en reken Duane Heath van die SA Rugbyunie (Saru) en sy span het dusver puik gevaar om `n toernooi van wêreldgehalte saam te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.