GB: kampioen offer ster vir tuiskwarteindstryd

Durbell vier sy sege van 25-22 teen College Rovers. (Foto: Durbell)

Durbell vier sy sege van 25-22 teen College Rovers. (Foto: Durbell)

Die verdedigende Goue Bekerhouer, Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie), het Saterdag van `n kwarteindstryd tuis seker gemaak, maar een van sy uitblinkers is in die proses ernstig beseer.

Durbell het die huidige KwaZulu-Natalse kampioen, College Rovers, 25-22 geklop. Dit beteken hy speel Saterdag tuis teen Evergreens van Pacaltsdorp (Suidwestelike Distrikte).

Sy kookwater-haker Jacques Vermaak het egter `n aaklige beenbesering opgedoen en is regstreeks van die veld na die operasieteater geneem.

Darron Nagel, Durbell se ondervoorsitter, sê hy (Vermaak) herstel sedertdien goed.

Nagel het aan Pale Toe! gesê die natweer-stryd tussen die twee spanne om oorheersing was uit die staanspoor straf.

Hy laat weet Rovers het vroeg die voortou geneem danksy `n strafdoel deur Matt Phillips (buitesenter), maar Durbell se opkomende sensasie Etienne Swarts, eweneens op buitesenter, het in die hoek gaan druk om die Durbies 5-3 te laat voorloop.

Tiaan Radyn (losskakel) het die voorsprong met `n strafdoel tot 8-3 gerek voordat Rovers teen die verloop van die spel in `n onderskepdrie gaan druk het. Die linkervleuel Tythan Adams het die lengte van die veld genael om onder die tuisspan se pale te druk (8-10).

Twee strafdoele deur Radyn het Durbell weer laat voorloop (14-10).

`n Oorstootdrie deur die besoekers se plaasvervanger-haker het Rovers dramaties die voorsprong besorg (14-15), maar nog twee strafdoele deur die komkommerkoel Radyn het die telling op 20-15 in die tuisspan se guns te staan gebring.

Die plaasvervanger-linkervleul Angus Cleophas se daaropvolgende drie het Durbell se oorwinning verseker (25-15).

Rovers se Adams het in die 80ste minuut vir `n troosdrie deurgestryk. Gavin Scott het dit verdoel om die eindtelling 25-22 in Durbell se guns te maak.

Adams se twee drieë maak hom met sewe die voorste driedrukker in die groepfase, en Radyn se 15 punte (vyf strafdoele) laat hom met 48 as die voorste puntemaker.

Nagel sê Durbanville se voorry (Thurlow Kohler, Vermaak/Arend Brink en die kaptein, Ashton Constant) het sy soveelste indrukwekkende vertoning van die seisoen gelewer.

“Die slot Michael Badenhorst was in die moeilike, nat toestand uitmuntend in die lynstane, en het die toekenning as speler van die wedstryd met Radyn gedeel.”

Nagel sê die afrigter Bobby Joubert sal tevrede, “indien nie hoogs in sy noppies nie” met die span se vertoning wees, “in die wete dat die span nog nie na snelrat oorgeskakel het nie”.

Min van 2015 se Durbell-wenspan het oorgebly en Joubert en sy steunspan, Reginald Nutt (voorspelerafrigter), Jason Hector (kondisioneringsghoeroe) en die klubstaatmaker Peter Virgin (spanbestuurder) het op merkwaardige wyse die jong span binne `n enkele seisoen tot `n ernstige aanspraakmaker op die behoud van die titel gebrei.

Diegene wat so graag `n sukkelseisoen aan `n “heropboufase” toeskryf, kan gerus by Joubert en sy makkers gaan kers opsteek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.