GB: keerwerk help Georgians geskiedenis maak

Old Georgians teen Witrivier. (Foto: Old Georgians)

Old Georgians se wenspan teen Witrivier. (Foto: Old Georgians)

Skitterende keerwerk het Old Georgians (Zimbabwe) Saterdag in staat gestel om geskiedenis in die oop klubs se reeks om die Goue Beker te maak.

Die span van Harare het die eerste buitelandse span geword om `n wedstryd in die SA Rugbyunie (Saru) se uitgebreide reeks te wen toe hy Witrivier (Pumas) 20-18 geklop het.

Naas die Zimbabwiese kampioen neem Namibië se beste oop klub, Wanderers van Windhoek, vanjaar die eerste keer aan die reeks deel.

Grant Mitchell, Old Georgians se hoofafrigter, het aan Pale Toe! gesê die span se deeglik georganiseerde verdediging het die grondslag vir sy oorwinning gelê.

Hy sonder die span se agttal in sy geheel uit vir sy uitmuntende spel as `n eenheid.

Die losskakel, Lenience (LT) Tambwera, het 15 punte met vyf strafdoele behaal en die slot Fortune (Fortchie) Chipendu het `n drie gedruk.

Old Georgians het vandeesweek `n loslootjie en kom die week daarop op sy tuisveld voor een van sy strafste toetse in die reeks te staan wanneer hy Valsbaai (Westelike Provinsie) aandurf.

Sy oorblywende wedstryde teen Durban Collegians (KwaZulu-Natal) en Brakpan (Valke) sal insgelyks geeneen maklik wees nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.