GB: kollig skerpste op dié vier kragmetings

goue bekerVeral vier van die naweek se kragmetings in die reeks om die Goue Beker sal skerp in die kollig wees.

Dit is ook belangrik dat die reeks `n paar verrassings oplewer om vroeë aanduidings te loënstraf dat die groepfase minder mededingend as verlede jaar kan verloop.

College Rovers (KwaZulu-Natal), Evergreens (Suidwestelike Distrikte), Brakpan (Valke) en Oos-Londen Polisie (Grens) sal hul buigings vanjaar maak.

Deurslaggewend

♦ Eerste van die primawedstryde is die kragmeting op Loftus Versfeld tussen die Polisiespanne van Pretoria (Blou Bulle) en Port Elizabeth (Oostelike Provinsie), die twee gunstelinge om Groep D te wen.

Dis `n jammerte, maar die groep sal ná dié deurslaggewende wedstryd heelwat van sy opwinding verloor – tensy Oos-Londen Polisie kan toon dat hy `n haas uit die hoed kan trek, of Sishen (Griekwas) en Bloemfontein Polisie (Vrystaat) wesenlik beter as in die eerste ronde wedstryde kan vaar.

Pretoria behoort `n sterker span in die veld te kan stoot as verlede Saterdag toe werkverpligtinge voorkom het dat verskeie spelers in Kathu kon gaan speel.

Vrydag se wedstryd word 16:15 regstreeks op Supersport 1 en HD gebeeldsend.

Moet spelpeil lig

♦ Die wedstryd in Welkom tussen Rovers (Griffons) en die verdedigende kampioen, Durbanville-Belville (Westelike Provinsie), sal aandui hoeveel werklik van die tuisspan se goeie vertoning teen Worcester Villagers afgelei kan word.

Dulbell is `n trappie of wat hoër as Villagers, en Rovers sal sy spelpeil moet lig, maar hy glo die Hoëveldse dun lug en sy klipharde veld tel in sy guns teen die kusspanne wat dit nie gewoond is nie.

Harde neut

♦ Brakpan was indrukwekkend in die Valkeliga, en daar is groot afwagting vir sy botsing teen Valsbaai (WP), een van die sterker gunstelinge om die reeks te wen.

Nes Rovers sal die Panne hoop die dun lug en harde veld van die Bosmanstadion, Brakpan, sal in sy guns tel teen die span van Constantia, en dat sy agttal sy vernietigingstog kan voortsit.

Selfs met dié faktore in die tuisspan se guns sal die Baai `n harde neurt wees om te kraak.

Appeltjie te skil

♦ Op Pacaltsdorp het Evergreens in Groep B `n appeltjie te skil met Rustenburg Impala (Luiperds) in wat potensieel die mededingendse van die vier groepe kan wees.

Toe Evergreens laas in 2013 die uitspeelrondes gehaal het, het Impala hom wreed daaruit geboender (50-10).

Hy het dus die grootste aansporing om te verras teen verlede jaar se naaswenner, wat weer een van die gunstelinge is om vanjaar te wen.

Pacaltsdorp se fanatiese tuisskare sal sake nie vir die Noordwesters makliker maak nie, maar hulle behoort steeds te wen.

Sake om reg te stel

♦ `n Tweede wedstryd word vandeesweek op TV-gebeeldsend wanneer Durban Collegians (KZN) se kragmeting 12:15 op Kingspark teen Witrivier later (19:45) op Supersport 6 aan die beurt sal kom.

Collegians het verlede week onverwags ver teen Valsbaai verloor, en sal sake wil regstel.

Witrivier sal bowemate goed moet speel, anders kan hy hom erg berou wanneer hy hom aan die ontvangkant bevind.

Teenvoeter of riemspring

♦ In nog `n Durbanse kragmeting speel College Rovers op Kingspark se KP3 teen Worcester Villagers.

Op die oog af behoort die Natalse kampioen redelik maklik te wen, maar Villagers is nie `n span wat sommer tou opgooi nie.

Hy kan hom egter daarop voorberei dat die Durbanse Rovers selfs beweegliker as sy Welkomse naamgenoot is, en tensy hy `n teenvoeter daarvoor vind, sal hy weer riemspring.

Kloof te wyd

♦ Northam Platinum Rhinos (Limpopo Blou Bulle) is nog `n span wat voor `n enorme uitdaging te staan kom as hy die tweede opeenvolgende week kragte meet teen een van die gunstelinge om die Goue Beker te wen.

Dié keer speel hy op Greenside teen Pirates (Goue Leeus), een van die min oop klubs wat vanjaar getoon het hy kan met die uiniversiteitspanne saamgesels.

Ondanks sy moedige vertoning teen Impala, is die kloof tussen Northam en Pirates eenvoudig te wydom `n verrassing te verwag.

Ondankbare taak

♦ Sishen, wat onverwagse groot slae teen Pretoria Polisie in die eerste ronde op die lyf geloop het, het die ondankbare taak om oor die grootste deel van die land se breedte Oos-Londen toe reis om die plaaslike Polisiespan aan te durf.

Grens se Bobbies is `n grootliks onbekende faktor en dis moeilik om `n voorspelling te waag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.