GB: kwota verrassings sit fut terug in reeks

goue bekerSaterdag se kragmetings in die reeks om die Goue Beker het hul kwota verrassings opgelewer en laat die hoop opvlam dat die mededingendheid nie vir verlede jaar sal terugstaan nie.

Sishen (Griekwas) se goeie sege in Oos-Londen oor die plaaslike Polisieklub (Grens), Brakpan (Valke) s’n tuis oor Valsbaai, en Welkom Rovers (Griffons) se stewige vertoning teen Durbanville-Belville (Westelike Provinsie) toon dat daar sommer baie vonk in die reeks gaan wees.

Sishen het oor die breedte van die land gereis om Oos-Londen Polisie op eie werf 30-18 te klop en te waarsku dat daar nog volop lewe in Groep D is.

Brakpan het die kat in die duiwehok gegooi deur Valsbaai, een van die grootste gunstelinge, 26-19 in die Bosmanstadion op Brakpan te klop.

Die verdedigende kampioen, Durbell, het in Welkom 32-24 teen Rovers gewen, `n aanduiding dat die tuisspan se goeie vertoning teen Villagers Worcester nie `n gelukskoot was nie.

Pacaltsdorp Evergreens (Suidwestelike Distrikte) het die kloof tussen hom en Rustenburg Impala (Luiperds) aansienlik vernou en die Noordwesters het dié keer net 29-10 gewen (vorige keer 50-10).

Aan die keersy is College Rovers (KwaZulu-Natal) se onverwagte groot oorwinning van 53-10 oor Worcester Villagers.

Pirates (Goue Leeus) se sege van 51-24 op Greenside oor Northam Platinum Rhinos (Limpopo Blou Bulle) en Durban Collegians (KZN) s’n op Kingspark van 36-17 oor Witrivier (Pumas) was grootliks voorspelbaar.

♦ Pretoria Polise (Blou Bulle) het Vrydag 40-24 teen Port Elizabeth Polisie (Oostelike Provinsie) gewen.

Opgesomde punteleer –

Groep A

Durbell 10, College Rovers 5, Welkom Rovers 5, Worcester Villagers 1, Old Selbornians 0.

Groep B

Rustenburg Impala 10, Pirates 9, Wanderers Windhoek 2, Evergreens 0, Northam 0.

Groep C

Valsbaai 6, Durban Collegians 5, Brakpan 4, Old Georgians 4, Witrivier 1.

Groep D

Pretoria Polisie 10, PE Polisie 5, Sishen 5, OL Polisie 0, Bloemfontein Polisie 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.