GB: naelbytsege, maar Durbell is deur

durbell-logo.squareDie senuwees was rou geskaaf, maar die verdedigende Goue Beker-kampioen, Durbanville-Bellville, is deur na die halfeindronde van die oop klubs se internasionale reeks om dié beker.

Hy het die Suidwestelike Distrikte se kampioen, Evergreens van Pacaltsdorp, Saterdag in Durbanville 27-19 (rustyd 17-9) geklop.

Die kragmeting was eintlik die enigste wat reg aan die reeks laat geskied het in `n kwarteindronde wat deur wegholseges gekenmerk is.

Darron Nagel, Durbell se ondervoorsitter, sê dit was `n gelykop kragmeting en die tuisspan was twee minute voor die eindfluitjie slegs 20-19 voor.

Dit was toe dat die flank Brenden Esterhuizen die doellyn oorgesteek het om die uitslag bo alle twyfel te plaas.

Sy flankmaat Andrew Picoto het van `n oorstootskrum af gedruk, en die wenspan se derde drie is deur die losskakel Angus Cleophas gedruk.

Cleophas het twee drieë verdoel en `n strafdoel behaal vir `n persoonlike bydrae van 12.

Raymond Olivier (heelagter) het `n doelskop en `n strafdoel op die telbord geplaas.

Esterhuizen en Cleophas is saam as speler van die wedstryd aangewys.

Durbell speel Sondag tuis teen Valsbaai, die huidige WP-klubkampioen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.