Die senuwees was rou geskaaf, maar die verdedigende Goue Beker-kampioen, Durbanville-Bellville, is deur na die halfeindronde van die oop klubs se internasionale reeks om dié beker.
Hy het die Suidwestelike Distrikte se kampioen, Evergreens van Pacaltsdorp, Saterdag in Durbanville 27-19 (rustyd 17-9) geklop.
Die kragmeting was eintlik die enigste wat reg aan die reeks laat geskied het in `n kwarteindronde wat deur wegholseges gekenmerk is.
Darron Nagel, Durbell se ondervoorsitter, sê dit was `n gelykop kragmeting en die tuisspan was twee minute voor die eindfluitjie slegs 20-19 voor.
Dit was toe dat die flank Brenden Esterhuizen die doellyn oorgesteek het om die uitslag bo alle twyfel te plaas.
Sy flankmaat Andrew Picoto het van `n oorstootskrum af gedruk, en die wenspan se derde drie is deur die losskakel Angus Cleophas gedruk.
Cleophas het twee drieë verdoel en `n strafdoel behaal vir `n persoonlike bydrae van 12.
Raymond Olivier (heelagter) het `n doelskop en `n strafdoel op die telbord geplaas.
Esterhuizen en Cleophas is saam as speler van die wedstryd aangewys.
Durbell speel Sondag tuis teen Valsbaai, die huidige WP-klubkampioen.