GB: Northam staan nie terug met drieë druk

Northam-logoIn weerwil van sy pak Saterdag teen Wanderers (Namibië) in Windhoek staan die span van Northam Platinum Rhinos (Limpopo Blou Bulle) nie terug as dit by die druk van drieë in die reeks om die Goue Beker kom nie.

Die Windhoekers het die wedstryd 60-29 gewen.

Flip de Kock, Northam se afrigter, het aan Pale Toe! gesê die Rhinos se aanval het gewys dat hulle met die beste kan saampraat as `n mens in ag neem dat die Limpopospan negende (uit 20) is op die lys van die getal drieë gedruk.

Oor Saterdag wys hy daarop dat Wanderers belaai was met al sy sterspelers wat nie meer Curriebekerrugby speel nie.

De Kock sê swak verdediging op dié vlak beteken altyd punte teen `n span, en Northam sal in dié opsig sy spel moet opskerp.

“Ons speel nog nie as `n span saam nie, en daar word nie met fases druk opgebou nie.

“Northam verloor sy wedstryde almal in die eerste helfte, en in die tweede helfte is hy mededingend.

“As ek moet iets uitlig, is dit dat die span nooit gaan lê nie, en was dit nie vir `n aanslaan of twee of `n laaste aangee wat verlore gaan nie, kon hy ses drieë gedruk het.”

Die Kock sê Patrick Hattingh (skrumskakel) het `n goeie wedstryd vir die Bosvelders beleef en sy hart uitgespeel. Voorlangs was WP Botha (slot) indrukwekkend en het hy met oorgawe gespeel.

Danie Loots het drie drieë gedruk, en dit maak hom saam met Tythan Adams (College Rovers) met vier elk die voorste driedrukkers in die reeks.

Bennard van Heerden het van die bank af nuwe lewe in die span geblaas en sterk impak gemaak.

Naas Loots het Dieter Marquart `n drie gedruk, en Hattingh het `n strafdoel en drie doelskoppe aangeteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.