GB: Northam vasbeslote om sterker te wedywer

Northam-logoNortham Platimum Rhinos (Limpopo Blou Bulle) is vasbeslote om strawwer teenstand in die res van die reeks om die Goue Beker te bied.

Rustenburg Impala (Luiperds) het hom in sy eerste wedstryd op Northam Platinum se ontspanningsterrein op Setaria 46-19 geklop, maar Flip de Kock, die Rhinos se afrigter, sê hy is trots op elkeen van sy spelers “en glo dat ons vandeesweek die foute sal regmaak en teen Saterdag `n beter span op die veld sal wees”.

Hy het aan Pale Toe! gesê die Rhinos het veral in die tweede helfte voorlangs met die skrums gesukkel.

“Dit het veroorsaak dat ons baie van die agtervoet af moes speel en nie momentum kon kry nie.

“Belangrike man-teen-man-duikslae is verbrou, en teen `n gedugte span soos Impala kan dit nie bekostig word nie.

“In die tweede helfte het Northam ook teen `n baie sterk wind gespeel, en is lang rukke in sy 22-gebied vasgepen.”

De Kock sê daar was ook goeie tye vir die Rhinos, en Impala kon eers laat in die eerste helfte die voortou neem.

“Ons het twee drieë in die eerste helfte gedruk, en Impala se agterlyn partykeer laat bontstaan.  Northam het hulle ook tot baie foute gedwing, maar kon dit nie benut nie.

“Ongelukkig het `n geel kaart aan `n Northam-speler in die tweede helfte ook meer gapings vir Impala gelaat, wat soos enige ander goeie span die situasie uitgebuit het.

“Ek dink nie die telling vertel die volle verhaal nie. Albei kante het baie harde, vinnige en genadelose rugby gespeel.”

De Kock sê Northam het baie uit die wedstryd geleer, en glo steeds hy kan vorentoe mededingend wees.

“Wat uitblinkers betref, het Patrick Hattingh het baie goed verdedig, en Danie Loots het by tye Impala se manne laat bontstaan.”

Loots, Johan Harmzen en Wheelan Fortuin het die tuisspan se drieë gedruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.