GB: ‘ongelooflike ervaring’ vir Valsbaai

Danie Roux - 40 meter vir drie genael. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Danie Roux – vyf driee teen Witrivier. (Foto: Gallo Images/Gold Cup Rugby)

Valsbaai, die Westelike Provinsie se kampioen, se heel eerste deelname aan die oop klubs se reeks om die Goue Beker, was dusver `n “ongelooflike ervaring”.

Só het die klub se hoofafrigter, Johnathan van der Walt, aan Pale Toe! gesê.

“Ons het tuis teen Durban Collegians, toe weg teen Brakpan op Brakpan en Old Georgians in Zimbabwe, en op die ou end weer tuis teen Witrivier gespeel.

“Elke wedstryd het grootliks verskil van dit waaraan ons in die Kaap gewoond is.”

Van der Walt sê die uitdagings en struikelblokke wat Valsbaai dusver te bowe moes kom, dien as voorbereiding vir sy strawwe kwarteindstryd teen Pretoria Polisie.

“Ons is bedag daarop dat hulle in talle uitklopwedstryde in die nasionale klubkampioenskap gespeel het, en gewis die gunsteling is om die kragmeting te wen.”

Hy sê die regstreekse beeldsending van die wedstryd deur Supersport is `n besonderse geleentheid vir die spelers om hul talent aan die kykers te toon.

Die Baai het 14 drieë in sy jongste wedstryd teen Witrivier gedruk en 94-7 gewen.

Van der Walt sê dit was gaaf om ná twee naweke weg `n slag tuis te speel, en die verposing tussenin was noodsaaklik en tydig.

Valsbaai se regtervleuel Danie Roux het vyf, die binnesenter Riaan O’Neill vier, en die plaasvervanger-vleuel/heelagter Mustaqeem Jappie `n driekuns (binne 25 minute) drieë gedruk. Die losskakel Andri Claassen het met nege uit tien doelskoppe geslaag en die heelagter Adriaan Osman met drie uit vier.

“Nou is ons in die deel van die reeks wat saak maak. Ons het Pretoria Polisie in aksie gesien, en hulle het buitengewoon goed in hul groep gevaar,” sê Van der Walt.

“Ons klub en gemeenskap kan nie wag vir die kragmeting nie.”

Valsbaai reis Vrydag middag Johannesburg toe en sal in Hatfield, Pretoria, oornag.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.