GB: onsekerheid knaag aan Old Georgians

old georgiansDie onsekerheid van wat om in die oop klubs se reeks om die Goue Beker te verwag, is een van die grootste uitdagings wat die Zimbabwese span Old Georgians in die gesig staar.

Die span het onlangs die Zimbabwese liga gewen en sy tuisseisoen onoorwonne afgesluit.

Grant Mitchell, die span se hoofafrigter, het aan Pale Toe! gesê dis moeilik om die span se vooruitsigte te peil omdat die deelname aan die reeks `n eerste vir `n Zimbabwese span is.

“Hoewel dit opwindend is, dra ons geen breedvoerige kennis van die spanne teen wie ons speel nie, anders as die geval in ons plaaslike liga.

“Dit dwing ons om van wedstryd tot wedstryd sake te ontleed en te beoordeel, maar moenie `n fout maak nie, Old Georgians speel met die oog op die beker.”

Mitchell sê die tekortkoming het gehelp dat die span in sy voorbereiding hom kon toespits op die spelers se rolle en dit wat as `n span gedoen moet word.

“Ons sal ons energie fokus op fasette wat ons kan beheer.”

Hy sê Old Georgians se voorbereiding het goed verloop en is in die pylvak.

“Daar heers groot opgewondenheid in die kamp, en die span jeuk om aan die werk te spring. Alles het dusver verloop soos beplan.

“Daar was wel beserings, en die eerste keuse as loskopstut, Pieter Joubert, sal die reeks weens `n geskeurde bo-armspier misloop.

“Die ander beseerdes is goed aan ‘t herstel en sal in die loop van die reeks beskikbaar raak.”

Mitchell sê die span is propvol talent en die spelers geniet dit om saam te speel.

“Daar is hard aan gewerk om die twee faktore saam te smelt, en wanneer dit slaag, speel die span skouspelagtige rugby.

“Old Georginas speel puik binne sy ingeoefende strukture, maar ruimte word vir individuele briljantheid op die veld gelaat en dit lewer net sulke kykbare rugby op.”

Die afrigter sê daar heers groot opgewondenheid oor die geleentheid om oor grense heen kragte te meet, en langs die pad nuwe rugbyvriendskappe te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.