GB: oorsee, sewes tas Valsbaai se diepte aan

Valsbaai-logoOorsese kontrakte en sewesverpligtinge vir die Westelike Provinsie gaan `n belangrike uitwerking op Valsbaai se diepte in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker (GB) hê.

Jonno van der Walt, Valsbaai se hoofafrigter, sê die klub is `n week voor die reeks afskop nog op volle sterkte, maar sal van sy spelers aan oorsese kontrakte afstaan namate die reeks vorder. Daar is ook spelers wat in die groepfase van die GB-reeks sewesrugby vir die WP moet speel.

“Diepte is `n sleutelfaktor in klubrugby en dis des te belangriker in die reeks om die Goue Beker.”

Valsbaai is een van die nuwelinge in die reeks en het in 2013 nog in die WP se Superliga B (SLB) gespeel en dit gewen. Hy was in 2014 vierde in die Superliga A (SLA), en verlede jaar tweede ná die Maties. Dit het hom as die beste geplaaste nie-universitêre span vir die oop klubs se reeks in aanmerking laat kom.

Die klub is vanjaar die WP se klubkampioen, met die Maties wat tweede en die nasionale klubkampioen, Durbanville-Bellville, wat derde was.

Hy moet dus as een van die gunstelinge beskou word om die reeks te wen.

Van der Walt sê die klub se 2015-seisoen is middel-September afgehandel en die spelers het in November-Desember alweer begin oefen. Ná strawwe vriendskaplike wedstryde teen die vier topklubs in die SLA het die seisoen van April tot Augustus geduur.

“Die verposing van drie weke tussen die einde van die liga en die begin van die Goue Bekerreeks het die liggame ruskans gegee en die verstand kon op die ophande synde taak fokus.

“Dis die eerste keer in Valsbaai se geskiedenis dat hy aan `n wedstrydreeks soos dié deelneem, en ons weet nie wat om daarvan te verwag nie.

“Al die ander deelnemers het hul onderskeie ligas gewen, en die meeste het vantevore aan die reeks deelgeneem.”

Van der Walt het aan Pale Toe! gesê Valsbaai gaan die geleentheid geniet, maar sal elke teenstander met dieselfde respek benader en dienooreenkomstig vir die wedstryde voorberei.

“Geen kragmeting sal ligtelik opgeneem word nie.”

Groot kanonne

Die afrigter sê die meeste van sy groot kanonne is fiks, reg vir die stryd en kan nie wag vir die eerste wedstryd op 10 September nie.

Valsbaai ontvang Durban Collegians (KwaZulu-Natal) op Philip Herbsteinpark in Constantia.

Van der Walt beskou dit as die span se grootste uitdaging om vir die komende agt weke geestelik sterk te bly mits die Baai die uitspeelrondes haal.

Hy sê die span is goed gebalanseer en sal hom nie van die weer of tuis- en wegwedstryde van stryk laat bring nie, “al geniet ons dit om in ‘Fort Valsbaai’ te speel”.

“Ons is opgewonde en wil die gemeenskap op ons trots maak. Ons sal vir die Baai-gesin speel, wat ons elke naweek tuis of weg ondersteun.

“Hierdie een word aan hulle opgedra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.