GB: `OP-geskil lankal in Polisie-guns besleg’

pe polisieDie dispuut oor wie die Oostelike Provinsie in die oop klubs se reeks om die Goue Beker moet verteenwordig, is verlede jaar al in Port Elizabeth Polisie se guns besleg, sê die klub se voorsitter, Danie Gouws.

Die OPRU het die SA Rugbyunie laat weet Polisie verteenwoordig die bond in die nasionale reeks, maar Despatch staan dit teen en dreig met regstappe tensy Despatch die verteenwoordiger is.

Gouws het aan Pale Toe! gesê Polisie het in werklikheid die 2015-Grootuitdaagseisoen met met 54 ligapunte teenoor Despatch se 52 afgesluit.

♦ Voor Despatch se laaste wedstryd teen Windvogel het die OPRU aangedui dat Polisie, wat al sy verpligtinge afgehandel het, 55 ligapunte gehad het teenoor Despatch se 51. Die bonuspunt wat Despatch met sy sege van 48-7 verdien het, sou hom 56 ligapunte – een meer as Polisie – besorg het.

Daar was deurentyd min tussen die twee spanne te kies. Polisie was onoorwonne in die reeks, maar Gardens (Uitenhage) het Despatch 32-30 geklop. Die krameting tussen Polisie en Despatch het 22-22 gelykop geëindig.

♦ Gouws wys daarop dat die geskil spruit uit vyf wedstryde wat in Junie uitgestel is toe velde ná swaar reën onder water was. Dit sluit Despatch se wedstryd teen die Brumbies van Grahamstad in. Despatch het die uitgestelde wedstryd 38-10 gewen.

“Die ligareëls maak geen voorsiening nie vir die uitstel van wedstryde as `n natuurkrag (act of God) voorkom dat dit gespeel word. Dit bepaal eenvoudig dat die twee spanne wat geraak word die punte deel,” sê Gouws.

“Dit kom dus daarop neer dat die uitstel van die wedstryde onreëlmatig was.

“Polisie was destyds al bereid om die kwessie hof toe te vat, maar die OPRU het die klub in `n skikking gelyk gegee dat `n natuurkrag betrokke was en die oorgespeelde wedstryde ongeldig was.”

Gouws sê daar kan dus nie twyfel bestaan nie dat Polisie in werklikheid die Grootuitdaagreeks gewen het.

♦ Sover vasgestel kan word, word beplan dat die drie partye (die OPRU, Polisie en Despatch) vandeesweek sal vergader om uitsluitsel te probeer kry.

Die SA Rugbyunie (Saru) hou die situasie dop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico ·

Hoekom het die OP Unie nie dan onmiddelik die reën wedstryd ”gelykop” verklaar nie en dit toe duidelik gemaak het dat die uitstel van die wedstryd wederregtelik is en geen verskil aan die liga puntestand gaan doen nie. Ek ruik ‘n rot en die Watson korupsie sirkus raak net erger. Lyk Polisie doen gretig mee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.