GB: oudkampioen steun Valsbaai in eindstryd

durbell-logo.squareDie uitgeskakelde Goue Beker-kampioen, Durbanville-Bellville (Westelike Provinsie), het sy steun vir die reeks se eindstryd aan sy mede-WP-klub Valsbaai toegesê.

Die Baai speel Saterdag teen Rustenburg Impala (Luiperds) in die eindstryd op laasgenoemde se tuisveld, en Darron Nagel, die ondervoorsitter van Durbell, het hom (Valsbaai) namens die Durbies sukses toegewens.

Nagel se Durbell het `n puik seisoen beleef, maar die halfeindstryd teen die span van Constatia was `n hekkie te veel.

Ondanks die TV-dekking van die kragmeting het sowat 5 000 toeskouers by die veld opgedaag en `n atmosfeer geskep wat aan toetsrugby herinner het, het Nagel aan Pale Toe! gesê.

“Die huidige WP-kampioen het uit die staanspoor geen twyfel gelaat nie dat hy allermins genade van die Goue Beker-kampioen sal verwag of aan hom sal bied.

“Valsbaai het die Durbies in die eerste helfte oorheers en was rustyd `n byna onoorkomelike 24-6 voor. Getrou aan hul aard het die Durbies hul beste gedoen en bly terugveg.

“Die Baai het egter elke keer `n antwoord gehad en die telbord aan die rol gehou om uiteindelik 41-35 te wen.”

Ashton Constant, Etienne Swarts (2) en Brendon Esterhuizen het Durbell se drieë gedruk; Raymond Olivier het drie verdoel en met `n strafdoel geslaag; en Tiaan Radyn het nog twee strafdoele bygevoeg.

Nagel se Valbaai se lof kan nie genoeg besing word nie – wat sy spel betref, sowel as die gedrag van die spelers en ondersteuners.

“Dis verfrissend om só `n vriendskaplike en respekvolle mededinging te ervaar terwyl soveel op die spel is. Ek glo baie ander klubs kan `n blaaitjie uit Valsbaai en Durbell se boekie neem.

“Duane Heath van die SA Rugbyunie (Saru) en sy span verdien lof vir die toernooi van topgehalte wat as toonvenster van klubrugby landwyd dien.”

Nagel het almal bedank wat tot Durbell se sukses vanjaar bygedra het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.