GB: Panne se agttal gee toon aan

Brakpan-logoBrakpan (Valke) se voorspelers het Saterdag die toon aangegee in sy oorwinning van 29-16 oor Old Georgians van Harare (Zimbabwe) in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker (GB).

Só het Harry Nieuwenhuis, die klub se voorsitter, aan Pale Toe! gesê, en bygevoeg dat veral die flank Wikus van der Berg `n uitstekende dag beleef het.

“Die Panne het die losbal goed beheer en in die skrums en losgemale was die span eenvoudig beter daaraan toe as die Zim-manne.

“Agterlangs het hulle Brakpan geklop en was hul aanvalle baie goed en het hulle gereeld geleenthede wyd uit geskep.”

Nieuwenhuis sê naas Van der Berg het Theo Becker (slot) en Ian Oosthuizen (haker) vir die wenspan uitgemunt.

Becker, Tinus Ueckerman (regtervleuel), Gido Horn (plaasvervanger) en Ricky Mendes (plaasvervanger) het Brakpan se drieë gedruk. Horn het twee doelskoppe en `n strafdoel vir `n persoonlike totaal van 13 bygevoeg. Hagen Mumba (heelagter) het met `n strafdoel geslaag.

old georgiansAfronding laat OG in steek

♦ Old Georgians se afronding het hom teen Brakpan in die steek gelaat, het die span se hoofafrigter, Grant Mitchell, aan Pale Toe! gesê.

“Op hierdie vlak van mededinging verloor `n span beheer oor die telbord as hy foute maak. OG het basiese foute begaan wat etlike drieë verspil het. Alles verloop nie altyd in `n mens se guns nie.

“ Ons het geweet dit sal `n fisieke kragmeting wees en was daarop voorberei. Hul agttal was man vir man aansielik groter as OG s’n, maar ons skrumstelsels het ons in staat gestel om hulle in dié faset uit te daag.”

Mitchell sê OG het geweet sy fiksheidspeil sal hom in staat stel om hardlooprugby te speel, en as die span se vaardighede beter was, kon hy die telbord beheer het.

“Brakpan verdien lof vir sy oorwinning. Dis `n hardwerkende die span, en van die veld af `n baie gasvrye en vriendelike gemeenskap.”

Hy sê OG se skakelpaar, Lenience Tambwera en Boyd Rouse, het skitterend aangeval, en die speelkantflank, Jacques Leitao, en die binnesenter, Boyd Rouse, het opnuut die voorbeeld met hul aggressiewe verdediging gestel.

Die slot Kyle de Beer het `n drie gedruk en Tambwera het `n doelskop en drie strafdoele behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.