GB: PE Polisie fnuik taktiese skopwerk

pe polisieDon’s Pawn Shop Port Elizabeth (Oostelike Provinsie) moes Saterdag alles in die stryd werp om Sishen (Griekwas) se taktiese skopwerk te fnuik in hul kragmeting in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker.

Die Baaise span het die fisieke en klipharde wedstryd 24-19 gewen nadat daar rustyd nog geen punte op die telbord was nie.

Marius van der Walt, die hulpafrigter van Port Elizabeth Polisie, het aan Pale Toe! gesê Polisie was in `n stadium gemaklik voor, en moes toe hard veg om die wedstryd te beklink.

“PE Polisie het in die eerste helfte baie goed verdedig toe Sishen, met `n sterk wind agter hom, verwoed aangeval het.

“[Sishen] het probeer om die wind met taktiese skopwerk tot sy voordeel te gebruik, maar die aanvalle is afgeweer met goeie spel deur veral Justin Peach, Ruan Allerston en die twee vleuels, Eben Barnard en Elton Loxton.

“Hulle het die hoogskoptegniek uitstekend die hoof gebied, en dit met berekende skop- en hardloopwerk gefnuik.”

Van der Walt sê die Bobbies het kort voor rustyd volgehoue druk op die tuisspan se doellyn toegepas, maar Sishen het uitstekend verdedig om PE Polisie van sy doellyn weg te hou.

Albei spanne het in dié helfte met verskeie pogings pale toe misluk.

“Die tweede helte het baie goed vir Polisie begin toe Lyle Walters ná uitstekende samespel deur voor- en agterspelers in die hoek gaan druk het. Peach het dit van die kantlyn af verdoel (7-0).

“Hierna het Dwayne Kelly pragtig ná `n lynstaan gebreek om weer die alomteenwoordige Lyle Walters in besit te stel, wat sy tweede drie gedruk het. Peach het weer verdoel (14-0),” laat weet Van der Walt.

Sishen het hierna `n drie gedruk ná netjies spel deur sy voorspelers (14-5).

“Polisie het in hierdie stadium die wind baie goed gebruik, wat aan hom gebiedsvoordeel gegee het.

“Stefan Deysel het ná volgehoue druk op Sishen se doelgebied `n welverdiende drie gedruk. Allerston het dit verdoel (21-5).

“Sishen het pragtig teruggeveg en twee drieë gedruk om die teling op 21-19 te staan te bring, hoewel daar omstredenheid was omdat die laaste drie toegeken is ná wat na `n flagrante aanslaan gelyk het.

“Die volgende paar minute was naelbyt omdat al twee spanne verwoed aangeval het, en hegte verdediging was die orde van die dag.”

Polisie het op die ou end `n strafskop op die middellyn gekry en Allerston het dit oorgeskop om seker te maak die Baaise Polisie wen die uitmergelende stryd 24-19.

Van der Walt sonder Loxton, Peach, Allerston, Frans Gerber, Walters en die Blitsbok Wayne van Heerden as PE Polisie se uitblinkers uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.