GB: Pirates optimisties oor sy kans in reeks

logo-piratesPirates (Goue Leeus) is heel optimisties oor sy kans in die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker wat Saterdag afskop.

Brad Wilken, die klub se hoofafrigter, sê die span het die afgelope twee jaar net twee keer teen oop klubs verloor – een keer teen Wanderers aan die begin van 2015 (en in die tweede ronde het ons hulle 47-5 verslaan), en vanjaar `n keer teen Raiders (en in die tweede ronde klop ons hulle 28-27, en in die halfeindstryd 33-22).

“Dit toon dat Pirates weet hoe om teen oop klubs te speel en te wen,” het hy aan Pale Toe! gesê.

“Om `n redelike kans in die reeks te hê, moet `n span sy groep probeer wen. Net soos in die reeks om die Wêreldbeker het die span wat bo eindig in sy groep `n baie beter kans in die uitspeelrondes.

“Ons sal baie teleurgesteld wees as ons nie die kwarteindronde haal nie.”

Wilken beskou Windhoek Wanderers (Namibië) as `n onbekende faktor.

“Niemand weet hoe hulle speel nie. Ons weet ook nie wie vir hulle speel nie.

“Ons verwag egter harde rugby voor, met redelike groot, fisieke voorspelers, maar ek kan verkeerd wees. Omdat ons nie heeltemal seker is nie, sal ons op ons eie spel konsentreer en seker maak dat ons besit van die bal behou, en soveel as moontlik hulle in hul eie gebied vaspen.

“Dit sal lekker wees om teen `n onbekende span te speel. Dit is ook `n groot toets vir die Pirates-spelers – om te sien hoe hulle die toestand hanteer en hoe hulle daarby aanpas.”

“Ja, dankie tog,” antwoord hy op die vraag of al die staatmakers fiks en beskikbaar vir die reeks is.

“Ons sit met drie beserings in die groep, maar hulle sal almal reg wees vir die uitspeelrondes.

“Pirates se groep van 33 spelers kom al `n lang pad saam, en die span is nie op net een of twee spelers gebou nie.

“As iemand `n besering opdoen, is daar altyd twee of drie spelers reg om daardie rol te vertolk.

Onbekende faktore

“Ons het in die loop van die seisoen een van ons loskakels (Shawn Davids met `n gebreekte enkel) en twee skrumskakels (Stokkies du Plessis en Arafat Kok, al twee kniebeserings) verloor, maar gelukkig is dit twee posisies waar Pirates baie diepte het.

“Elke span gaan in die loop van `n seisoen beserings opdoen. Dit is iets waarvoor `n afrigter moet beplan en voortdurend spelers moet ontwikkel.”

Naas die onbekende Windhoek Wanderers is Northam Rhinos (Limpopo Blou Bulle) ook redelik onbekend, maar Wilken berei eweneens vir `n fisieke aanslag voor.

Hy verwag Evergreens van Pacatsdorp (Suidwestelike Distrikte) gaan Pirates se grootste toets wees, “om die eenvoudige rede dat hulle `n ontsettende intimiderende atmosfeer vir besoekende spanne skep.

“Ons sien vreeslik uit om soontoe te gaan, omdat ons rugbyliefhebbers is en dit `n ondervinding sal bied wat ons nooit sal vergeet nie.

“Rustenburg Impala (Luiperds) is altyd sterk – ons ken hulle goed – maar sien daarna uit om weer teen hulle te speel.”

Kan met beste saampraat

Wilken meen die feit dat Impala en Evergreens al twee verlede jaar in die reeks gespeel het, moet in hul guns tel, asook die feit dat al twee op hul tuisvelde teen Pirates speel.

Hy is oortuig hul afrigters het ook al hul huiswerk gedoen, en gesien dat Pirates hierdie seisoen twee keer die Varsitybeker-kampioen, die NWU Pukke, geklop het – op Potchefstroom en tuis op Pirates se veld; ook dat hy weg en tuis teen Wits gewen het.

“Dit en ander seges sê vir `n mens dat Pirates se verdedigingspatrone teen fisieke spanne sowel as teen vinnige spanne slaag.”

Wilken meen die reeks om die Goue Beker bied `n opwindende verhoog vir Pirates se spelers om hulle talente uit te stal.

“Omdat dit die eerste keer sedert 2009 is dat ons op só `n vlak gaan meeding, is ons versigtig optimisties oor ons kanse.

“Pirates het die spelers om met die beste te kan meeding. As `n mens na die span se rekord die afgelope twee seisone teen oop klubs sowel as universiteite kyk, sal daar buite wel `n paar afrigters wees wat sit en kop krap oor Pirates.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.