GB: Pretoria Polisie beter as Carlton-vertoning

pretoria polisiePretoria Polisie (Blou Bulle) is `n veel beter span as wat uit sy vertoning in vanjaar sy Carltonreeks blyk, en indien hy uit sy foute geleer het, is daar geen rede hoekom hy nie die uitspeelrondes van die reeks om die Goue Beker kan haal nie.

Só sê die klub se woordvoerder, Johann Kluyts, wat die Polisieklubs in Pretoria en Port Elizabeth dekades lank as speler, afrigter en ampsdraer gedien het.

Terloops, hy het die Oostelike Provinsie van 1995 tot 1997 afgerig. Sy hulpafrigter? Die huidige Springbokbreier, Allister Coetzee.

Kluyts het aan Pale Toe! gesê voorbereiding is `n probleem vir die Hoofstad se Bobbies.

“Die span het sy laaste wedstryd `n maand gelede gespeel, en sal dus langer as ses weke sonder wedstrydoefening wees wanneer die eerste wedstryd gespeel word.

“Die plaaslike liga is verby, dus is daar is nie spanne om teen te oefen nie. Ek weet nie of van die ander bonde se spanne dieselfde probleem het nie.”

Hy sê van Polisie se staatmakers is weens werkverpligtinge nie beskikbaar vir al die wedstryde nie. “Ses spelers is, byvoorbeeld, nie vir die eerste wedstryd teen Sishen beskikbaar nie, maar dis ook goed dat die res speelkans kry en moet bewys dat Polisie sy plek in die reeks waardig is.

“Die uitdaging is dat elke speler sy kans só moet benut dat hy daarna moeilik weggelaat kan word.”

Kluyts sê amateurs reis selde ver, en hopelik sal die bestuurspan reëlings só kan aanpas dat die span uitgerus by sy bestemmings vir wegwedstryde aankom.

Nico Luus (Foto: The Bulls)

Nico Luus (Foto: The Bulls)

“Uiterste dissipline is belangrik, en ek glo die hoofafrigter, Nico Luus, is ervare genoeg om hier die nodige leiding te verskaf.

“Dit moet veral in aggeneem word dat baie spelers wat in hierdie reeks speel vir die heel eerste keer ‘op toer’ gaan.

“Polisie het `n klomp ervare spelers wat al jare saamspeel, en dit kan bloot in hul guns tel. Kom ons hoop hulle aanvaar die verantwoordelikheid. Die reeks het egter bepaalde reëls oor die samestelling van spanne, maar dit geld almal en ek glo daar is steeds genoeg gevestigde spelers om die nodige leiding te verskaf.

“Senior spelers behoort nou al die spel te kan beoordeel en die groter prentjie op die veld te kan raaksien.”

Kluyts se versugting is dat die reeks goeie en aantreklike rugby sonder `n doellose geskop sal oplewer.

“Skop is deel van die spel, maar dit mos belaglik om eenvoudig jou swaar verdiende besit in die teenstanders se hande te skop en dan aan hulle die geleentheid te gee om aan te val.”

Hy wys daarop dat daar geen speler is, wat nie raakgesien wil word en iewers `n kans by `n bond wil verdien nie.

“Dit gaan my verstand te bowe dat provinsies net koop en goeie plaaslike talent miskyk. Hopelik beloon hierdie reeks `n paar spelers vir hul harde werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.