GB: Pretoria Polisie mik nog na 80 minute

pretoria polisiePretoria Polisie werk steeds daaraan om `n 80-minutewedstryd in die oop klubs se reeks om die Goue Beker bymekaar te sit.

Só het Nico Luus, die span se hoofafrigter, aan Pale Toe! gesê ná die Pretoriase Bobbies se oorwinning van 36-24 Saterdag oor Bloemfontein Polisie op Bobbiespark in die Vrystaatse hoofstad.

Hy sê Pretoria het die wedstryd baie goed begin en die bonuspuntdrie reeds vroeg in die eerste helfte gedruk, “maar daarna het ons baie geleenthede gehad om punte aan te teken, en elke keer onnodige foute gemaak”.

“Dit was goed om die talle kanse te sien wat die span geskep het om drieë te druk, maar ek is bekommerd oor die hoeveelheid onnodige foute wat Bloemfontein terug in die wedstryd gebring het.

“[Pretoria] werk steeds daaraan om `n 80-minutewedstryd bymekaar te sit. In die eerste twee wedstryde was die laaste 20 minute goed, en Saterdag die eerste 20.

“Daar sal baie aandag daaraan gegee word die week waarin ons `n loslootjie het.”

Luus sê baie krediet moet aan Bloemfontein Polisie gaan, “wat myns insiens baie ongelukkig was om sy eerste wedstryd teen Port Elizabeth Polisie te verloor, wat met tye skitterende rugby gespeel het”.

Hy sê Pretoria is baie tevrede met sy 15 ligapunte ná drie wedstryde, maar moet nou momentum bou na die kwarteindronde waar `n baie sterk Valsbaai dalk op hom wag “waar die kanse min gaan wees en die verdediging sterker getoets sal word”.

Luus sê Ian van Deventer was die speler van die wedstryd, hoewel iemand soos Johan Pieterse heel moontlik sy beste rugby in `n hele paar jaar speel, en iemand is wie se bydrae nie altyd reg na waarde geskat word nie.

“Dillion Laubscher het ook weer gewys hoekom hy so hoog aangeslaan word en was takties uitstekend, so ook sy besluitneming op die aanval.”

Al Pretoria se drieë is deur agterspelers gedruk: Piet Botha (vleuel, twee), Laubscher (losskakel), Willie Odendaal (senter) en Puma Tshiovhe (heelagter). Laubscher het met drie doeskoppe geslaag, en Morné Hugo met een en `n strafdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.