GB: Pretoria Polisie wil peil teen Valsbaai lig

Ivan Venter, Pretoria Polisie se linkervleuel, val teen Bloemfontein Polisie aan. (Foto: Johanna de Vos)

Ivan Venter, Pretoria Polisie se linkervleuel, val teen Oos-Londen Polisie aan. (Foto: Johanna de Vos)

Pretoria Polisie (Blou Bulle) wil steeds sy spelpeil lig wanneer hy Saterdag die Westelike Provinsie se kampioen, Valsbaai, in die kwarteindstryd van die oop klubs se internasionale reeks om die Goue Beker (GB) aandurf.

Só sê die Bobbies se hoofafrigter, Nico Luus, ondanks die span se onoorwonne rekord in die reeks se groepfase, en sy wegholsege van 75-5 Saterdag oor Oos-Londen Polisie.

Luus het aan Pale Toe! gese die span sien “ongelooflik baie” uit na die uitdaging wat die naweek op Loftus voor lê.

“Valsbaai is een van die toernooi se gunstelinge en het op die oog af nie veel swakplekke nie. Dis hoekom ons nie vandeesweek baie aandag gaan gee aan wat hy doen en nie doen nie. Ons kan niks daaraan doen of verander nie.

“Boonop sal [die Baai] baie gemotiveerd wees na sy groot oorwining die afgelope naweek. [Hy het Witrivier (Pumas) 94-7 oorrompel – Red.] Dit is iets wat ons net vining sal bespreek, en dan eerder op dinge konsentreer wat ons in ons eie spel kan verander en op kan verbeter.

“Hoewel dit voortaan uitkloprugby is, wil ons nie te veel verander aan dit wat ons tot hier gebring het nie. Ons wil aanhou om positiewe, aanvallende rugby te speel, ons foute te beperk en takties rugby op die regte dele van die veld te speel.”

Luus sê Polisie was Saterdag hoogs tevrede met sy vertoning in die eerste helfte – hy was rustyd 54-0 voor – maar minder so met die tweede helfte waarin hy konsentrasie verloor en van sy wedstrydplan afgewyk het.

“Dit kan egter te wagte wees in `n wedstryd waarin die telling so hoog soos Saterdag was.”

Hy sê die slotte Divan Steenkamp en Joe Motsepe het uitstekende vertonings gelewer, en dieselfde geld vir die losvoorspelers Vince Qwavu, Louis van Biljon en Ivan van Deventer.

“Hendrik van der Nest (skrumskakel) het eenvoudig weer gewys hoekom hy so hoog aangeslaan word, en is as die speler van die wedstryd bekroon.

“Piet Botha (regtervleuel) het ook getoon dat daar `n blink toekoms op hom wag.”

Van Deventer het `n driekuns drieë gedruk, en Johan Pieterse (haker), Tinus Hoffman (plaasvervanger-haker), Pieter Strydom (binnesenter), Botha, Motsepe, Gwavu en Willie Odendaal (buitesenter) die res. Daar was ook `n strafdrie, en Morné Hugo (losskakel) het 20 punte met tien uit die elf doelskoppe behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.